AfriForum eis voorlopige skorsing van Ngwathe se munisipale bestuurder te midde van bedrogklagtes
AfriForum tree vandeesweek opnuut in die belang van die inwoners van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit op deur die voorlopige skorsing van Futhuli Patrick Mothamaha, munisipale bestuurder van dié munisipaliteit, te eis. Dit volg nadat Mothamaha onlangs in hegtenis geneem en aangekla is van bedrog, diefstal, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Altesaam R1,9 miljoen het na bewering in 2021 uit die Maluti-A-Phofung Plaaslike Munisipaliteit se begroting verdwyn terwyl Mothamaha as munisipale bestuurder by dié munisipaliteit werksaam was.
Mothamaha en die direkteur van Lesedi Khanya Energy, Lelokonyane Isak Letseng, is op 18 November in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat die geld wat vir die installering van transformators geoormerk was, glo aan Lesedi Khanya Energy oorbetaal is sonder dat enige transformator gelewer of geïnstalleer is. ’n Faktuur vir die volle bedrag is na bewering deur Letseng ingedien en glo deur Mothamaha goedgekeur vir betaling. Die Valke ondersoek tans dié twee individue se betrokkenheid by die saak. Beide het reeds in die Bethlehem-landdroshof verskyn, waar hulle elk op R10 000 borgtog vrygelaat is. Die saak is tot 22 Januarie 2026 uitgestel.
“Dit is kommerwekkend dat aanstellings gemaak word sonder dat daar op die kandidate se agtergrond en bevoegdheid ingegaan word. Dit laat ’n mens die bevoegdheid van die bestaande Ngwathe-amptenare bevraagteken,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.
AfriForum het in ’n skrywe die munisipaliteit daaraan herinner dat die Munisipale Stelselswet en regulasies vir senior bestuurders duidelike en bindende verpligtinge op munisipaliteite plaas wanneer ’n senior bestuurder by ernstige finansiële wangedrag of kriminele oortredings betrek word. Hierdie vereistes is nie opsioneel nie en mag ook nie uitgestel word nie, daarom eis AfriForum dat Mothamaha voorlopig geskors word hangende die uitkoms van die saak.
“Die Ngwathe-munisipaliteit kan dit nie bekostig om ’n munisipale bestuurder te hê wat ernstige bedrogklagtes in die gesig staar nie – ongeag waar die beweerde bedrog plaasgevind het. ’n Voorlopige skorsing impliseer nie skuld nie, maar is eerder ’n voorsorgmaatreël wat in die openbare belang is, soos deur die wet voorgeskryf,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
“Die aard van die aanklagte, die omvang van die finansiële verlies en die vlak van openbare vertroue in ’n munisipale bestuurder, maak dit onregverdigbaar vir die Ngwathe-munisipaliteit om voort te gaan asof hierdie kriminele aanklagte geen invloed op sy administrasie het nie.”
AfriForum dring daarop aan dat die munisipale raad en die provinsiale departement van Plaaslike Regering dringend terugvoer gee oor die moontlikheid van Mothamaha se voorlopige skorsing; die regverdiging kommunikeer indien daar van hierdie wetlike vereiste (voorlopige skorsing) afgewyk is; en watter dissiplinêre stappe die raad van voorneme is om te neem, insluitend tydlyne.
AfriForum sal hierdie saak noukeurig dophou om verantwoordbaarheid te verseker. Indien die munisipaliteit nie vinnig terugvoer gee oor die aangeleentheid nie, behou AfriForum die reg om verdere stappe te oorweeg.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.



