AfriForum-hofoorwinning: Nersa se proses vir goedkeuring van kragtariewe ongrondwetlik
Die Pretoriase Hooggeregshof het vandag in die belang van kragverbruikers beslis deur AfriForum se standpunt te beaam dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nie behoorlike prosesse in die goedkeuring van munisipale kragtariewe gevolg het nie. Dié hof het beslis dat Nersa se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse, ongrondwetlik is.
Die saak is met koste gewen en die hof het boonop AfriForum se versoek om ’n interdik vir gespesifiseerde tydlyne vir toekomstige openbare deelnameprosesse, toegestaan. Die nuwe tydlyne in die munisipale kragverhogingsproses sal verseker dat daar nie ’n tekort aan geleenthede is vir die publiek om insae te lewer oor die voorgestelde kragtariefverhogings nie.
Luidens die hofuitspraak moet die energiereguleerder reeds teen 31 Januarie 2026 Eskom se nuutste tariewe waarteen munisipaliteite krag moet aankoop, aankondig. Die finale besluit rakende tariefaansoeke moet ook teen Maart 2026 by Nersa ingedien word om genoegsame tyd vir behoorlike openbare deelname te gee. Nersa se finale besluit oor elke munisipaliteit se nuwe kragtariewe moet teen 5 Mei 2026 afgehandel wees.
Die regter het ’n reël nisi uitgereik met die keerdatum 18 November en alle belanghebbendes, waaronder al 158 munisipaliteite, versoek om redes, indien enige, aan te voer waarom dié voorgestelde tydlyne nie goedgekeur moet word nie. Dié reël maak egter nie die beslissing oor die grondwetlikheid van Nersa se prosesse tot niet nie.
Nersa het vroeër aangevoer dat kostestudies nie in elke geval saam met aansoeke gepubliseer word nie, aangesien dit konfidensieel is, maar die regter het hierteen beslis en bevind dat alle aansoeke voorts ’n kostestudie daarby moet hê. Indien ’n aansoek daarsonder ingedien is, moet Nersa dit so stipuleer.
“Hierdie is nie net ’n oorwinning vir AfriForum en sy lede nie, maar vir elke persoon wat elektrisiteit betaal. Hierdie uitspraak verseker dat Nersa ’n proses volg waar verbruikers ’n behoorlike en regverdige sê kan hê in munisipale kragtariefverhogings en dat Nersa en munisipaliteite hulle nie ’n rat voor die oë kan draai nie. AfriForum is vol vertroue dat hierdie vaste tydlyne ’n hernieude stabiliteit tot elektrisiteitstariefaanpassings sal bring,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.
“As reguleerder behoort Nersa toe te sien dat munisipaliteite binne die raamwerk van die betrokke wetgewing optree en deurlopend ook die belange van verbruikers in ag neem. Hulle toets duidelik die grense van die wet, maar as hulle die grens oorsteek, sal AfriForum toesien dat daar teen die reguleerder opgetree word,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer oor Plaaslikeregeringsake.
Die jongste hofuitspraak is die derde agtereenvolgende oorwinning wat AfriForum vandeesmaand in die hof teen Nersa behaal het. Lees meer oor AfriForum se oorwinning in Rustenburg en Phalaborwa.



