|

AfriForum rig ‘rommelmonument’ op vir Dihlabeng se vrotspul

Die AfriForum-tak in Bethlehem het vandag ’n simboliese rommelmonument in Lughawestraat opgerig om die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit se voortgesette versuim om vullis behoorlik te verwyder, aan die kaak te stel. Die inwoners is raadop oor die rommel wat gedurig die dorp ontsier terwyl die munisipaliteit bloot anderpad kyk.

Die monument, wat bestaan uit ’n hout- en draadstruktuur gevul met rommel wat in die gebied rondgelê het, is opgerig om bewustheid te skep oor die omvang van die probleem.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, is die probleem reeds jare aan die gang. “AfriForum het die afgelope twee jaar talle skrywes aan die munisipaliteit gerig, asook insette gelewer tydens jaarlikse GOP-vergaderings. Ons het ons kommer uitgespreek oor besoedeling, brandgevare en die toename in peste wat hierdie vullis meebring. Ongelukkig val ons hulpkrete elke keer op dowe ore,” sê Ikking.

Dít is waarom AfriForum nou duidelike standpunt inneem. “Rommel wat nie opgetel en verwyder word nie, word ál meer aan die brand gesteek, wat ’n geweldige risiko inhou vir ondernemings. Rotte neem steeds toe in Bethlehem en die besoedeling van ons waterbronne raak toenemend ’n bedreiging. Deur eenvoudig die rommel gereeld te verwyder, kan verskeie probleme sommer dadelik aangespreek word.”

Volgens AfriForum is die gebrek aan dienslewering des te meer onverstaanbaar omdat die munisipaliteit reeds oor die nodige toerusting en personeel beskik.

“Daar is werkers wat daagliks papiere in die strate moet optel en die munisipaliteit beskik oor ’n werkende vullisverwyderingstrok. Hoekom kan die besigheidsarea dan nie skoon gehou word nie?” vra Ikking.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om saam te staan en hul stemme te laat hoor en basiese dienslewering te eis. Dit is tyd dat die munisipaliteit sy grondwetlike pligte nakom. Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil te maak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf