|

AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar vir 2025 aangewys

WC Reynders, stigter van voorbereide maaltydreeks FitFoodz, is verlede week tydens ’n glansgeleentheid in Centurion as die wenner van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar aangewys.  Hy het R100 000 in kontant gewen asook mediablootstelling ter waarde van R150 000. Hierdie pryse is moontlik gemaak deur onderskeidelik Version 8 Media Group en Steyn IP.

“Die kompetisie het my geleentheid vir persoonlike ontwikkeling gee. Dit was nogal uitdagend om voor die beoordelaars te praat, maar ek het waardevolle insette vir my onderneming gekry. Ek het ook ’n klomp wonderlike mense ontmoet,” sê Reynders, wat FitFoodz in 2017 begin het.

Hy het besluit om die prysgeld aan ’n kinderhuis in Potchefstroom te skenk. “Die Here was nog altyd goed vir my en my gesin en dit het gevoel soos ’n geleentheid om terug te gee.”

WC Reynders, wenner van vanjaar se AfriForum Sakeliga Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, en sy vrou Bernadene

Sedert die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie die eerste keer in 2017 aangebied is, het meer as 450 entrepreneurs al deelgeneem en meer as 25 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem. Vanjaar se kompetisie het bietjie anders as vorige jare verloop. Hierdie keer het alle deelnemers in net een kategorie teen mekaar deelgeneem. Om te kon inskryf moes die entrepreneur se onderneming al meer as ’n 1 000 dae, maar minder as tien jaar besigheid doen en reeds winsgewend wees.

Tien semi-finaliste is reeds op 13 Oktober aangekondig. Agt van hulle is deur die publiek gekies met die ander twee waarop die beoordelaars besluit het. Elkeen van die tien kon deur middel van ’n aanlynsessie en die hulp van ’n mentor hul portefeulje versterk. Hierdie portefeulje is gebruik om die vyf finaliste te kies wie ’n voorlegging voor ’n paneel beoordelaars moes doen.

Elke finalis ontvang handelsmerkregistrasie ter waarde van R12 000 van Steyn IP; lewens- en besigheidsafrigting ter waarde van R12 500 van Lizette Volkwyn; en ’n eksklusiewe proe-ervaring deur Rocket Distillery.

Nog iets wat vanjaar se Entrepreneur van die Jaar besonders maak is dat AfriForumTV deur die verloop van die kompetisie opnames gemaak het wat binnekort as ’n program op hierdie gratis platform uitgesaai sal word.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is hierdie jaar ’n keerpunt vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. “Die kern van hierdie kompetisie was nog altyd om deelnemers en finaliste ’n groter platform te gee. Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en ons weet dat dit harde werk verg om in Suid-Afrika sukses te bereik en dat dit wel baie moontlik is. Die entrepreneurs wat deelneem is soveel meer as net helde in hulle gemeenskap, hulle besef dit soms nie eens nie, maar hulle moedig ander entrepreneurs aan net deur dag na dag op te daag en ’n verskil in hulle gemeenskap te maak deur werk te skep.”

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf