|

AfriForum se Bethal-tak doen instandhouding en herstel slaggate in September

AfriForum se Bethal-tak het in September verskeie instandhoudingswerk aangepak en slaggate in strate herstel. Tydens ’n projek in Tsibitso Sibanyoni-straat is 140 sakke teer gebruik om die slaggate te herstel. Die gemeenskap het die teer geborg en AfriForum het die herstelwerk behartig. Daar is ook meer as 10 ton doleriet in slaggate opgevul in Hoëveld- en Van der Stel-laan. Die toestand van dié twee paaie is nou al so vervalle dat dit nie meer lonend sal wees om dit te teer nie daarom help AfriForum slegs met ’n korttermynoplossing sodat motoriste steeds die paaie kan gebruik.

“Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit voel vere vir ons dorp; hulle herstel nie meer ’n enkele straat aan die oostekant van die middedorp nie. Hulle grou oral slote en los dit half oop en gevul met doleriet. Die ergste is dat die munisipaliteit eintlik ons grootste probleme versoorsaak met die slote wat oral oopgaan,” sê Ingrid Human, AfriForum se voorsitter vir die Bethal-tak.

Verder het die tak ook alreeds begin met grassny-projekte voordat die bossies te hoog groei; die Nestlè-driehoek en omliggende gebiede se gras is reeds gesny. Daar word ook beplan om die N17 binnekort te begin skoon sny.

Tydens die onlangse waterkrisis het AfriForum se noodwaterpunte ook 24 000 liter water aan inwoners verskaf. Alhoewel die waterkrisis nie die vlakke van die 2024-krisis haal nie, bly AfriForum gereed vir indien die situasie weer kan opduik. Daar is ook vordering met die regsaak teen Rand Water. Dié saak is al lank in die pyplyn waar AfriForum ’n hersieningsaansoek teen Rand Water gebring het om die besluit om die Govan Mbeki-munisipale gebied se waterdruk te verlaag, ongrondwetlik en onbillik te laat verklaar. ’n Interlokutêre aansoek kom in Februarie 2026 voor omdat Rand Water nie al die inligting, soos deur die regsproses vereis, aan AfriForum voorsien nie.

“Ons veg vir ons dorp en ons mense. Hierdie geveg vind in die howe plaas, maar terselfdertyd bou ons. Sekere gebiede in Bethal kan mens duidelik die verskil sien wat AfriForum maak. Ons sal aanhou veg en versoek dat mense met mekaar praat om ons te help en ondersteun,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Steun die AfriForum-tak in Bethal deur aan te sluit by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf