AfriForum se infrastruktuur-beveiligingsprojek lewer sover 4 resultate in Oktober
AfriForum se infrastruktuur-beveiligingsprojek, wat vroeër vanjaar van stapel gestuur is om kritieke munisipale infrastruktuur in Pretoria te beskerm, het in Oktober reeds tot vier suksesse gelei. Hierdie projek vorm deel van AfriForum se groter strategie om gemeenskappe te beveilig en te verseker dat noodsaaklike dienste nie deur vandalisme of sabotasie ontwrig word nie.
Danksy die kamera- en patrolliestelsel, wat tans oor verskeie strategiese punte in Pretoria geïmplementeer is, het die beheerkamer op 1 Oktober omstreeks 10:26
twee verdagtes opgemerk wat die reservoir-drukklepkamer in Pretoria-Tuine betree het. Proshield-veiligheidsdienste, in samewerking met AfriForum se Wes-Moot-buurtwag, het onmiddellik gereageer en die verdagtes verjaag is. Dieselfde dag omstreeks 11:15 het
twee verdagtes weer probeer om die perseel te betree. Proshield het opnuut vinnig gereageer en die verdagtes voorgekeer. Die verdagtes is met ’n waarskuwing laat gaan.
Op 3 Oktober omstreeks 11:26 het die beheerkamer twee minderjariges opgemerk wat weereens die reservoir-drukklepkamer wou betree. AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het onmiddellik gereageer en die jong verdagtes gewaarsku om die terrein te verlaat. Ook op dieselfde dag, omstreeks 15:10, het die buurtwag tydens ’n roetinepatrollie twee minderjarige verdagtes net buite die reservoir-drukklepkamer aangekeer. Hulle is waarsku en van die terrein verwyder.
Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is hierdie suksesse ’n bewys dat gemeenskapsgedrewe aksies inderdaad werk. “Ons kan nie langer wag vir die Tshwane Metro om verantwoordelikheid te neem vir infrastruktuur wat miljoene rande se skade ly weens nalatigheid en misdaad nie. AfriForum en die gemeenskap het besluit om self die verskil te maak – en die resultate spreek vanself.”
AfriForum bevestig dat hierdie projek slegs die begin is van ’n groter strategiese beveiligingsinisiatief wat in fases oor Pretoria uitgerol sal word. Behalwe vir kameras en patrollies, sluit dit ook die versterking van hekke, ligte, alarmsisteme en samewerking met privaat sekuriteit in.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by hierdie veiligheidsinisiatief en om misdaad by hul plaaslike buurtwag of by die beheerkamer aan te meld.
Om deel te raak van die AfriForum Pretoria takke gebruik gerus die volgende skakel om aan te sluit: https://sluit-aan.afriforum.co.za?campaign=RoepToepCMO&leadSource=600066672.



