| |

AfriForum se Krugersdorp-tak vier ’n maand van samewerking en sukses

AfriForum se Krugersdorp-tak het Oktober afgesluit met groot suksesse in gemeenskapsveiligheid en skoonmaakprojekte, wat die waarde van gemeenskapsamewerking beklemtoon.

Die Krugersdorp-buurtwag het gedurende Oktober ’n totaal van 3 024 km in 356 patrollie-ure afgelê om die veiligheid van die gemeenskap te bevorder. Die maand is gekenmerk deur ’n suksesvolle massapatrollie en verhoogde sigbaarheid, terwyl verskeie patrolleerders ook vuurwapenopleiding ontvang het. Die buurtwag is boonop genooi na selfverdedigingsopleiding, wat volgens deelnemers uiters insiggewend en prakties was.

Intussen het ’n plaaslike AfriForum-patrolleerder gesien hoe ’n gemaskerde persoon ’n vragmotor kaap. Die patrolleerder het die res van die buurtspan daarvan ingelig, wat die vragmotor agtervolg het totdat die SAPD en sekuriteitsmaatskappye by hulle aangesluit het. Dis vragmotor is tot stilstand gebring en die kaper is gearresteer. Die geskatte waarde van die vrag op die vragmotor, het R8 miljoen beloop.

AfriForum se Krugersdorp-patrolleerders het ook op verskeie noodgevalle gereageer en op veldbrand-tonele gehelp en saam met nooddienste verseker dat die voorvalle vinnig onder beheer gebring word. ’n Spesiale hoogtepunt was die vinnige reaksie op ’n voorval van brandstofdiefstal in Paardekraal, waar AfriForum se patrolleerders in samewerking met Cordiguard-sekuriteit, Deka Specialised Services en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) twee verdagtes vasgetrek het.

Die verdagtes het glo brandstof by ’n vulstasie in Paardekraal gesteel en in ’n silwer Ford Fiesta met twee verskillende registrasienommers rondgery. Ná die voertuig se besonderhede op veiligheidsnetwerke gedeel is, is dit in Cecil Knightstraat opgemerk. Die vinnige samewerking het gelei tot hul inhegtenisneming op Robert Broom-rylaan naby Hekpoortweg.

Hierdie voorval het weereens getoon hoe samewerking tussen gemeenskapsveiligheidstrukture, private sekuriteitsfirmas en die SAPD doeltreffende misdaadbekamping moontlik maak.

Krugersdorp se heel eerste AfriForum Jeug-aksie vir 2025 het ook hierdie maand afgeskop. Jongmense het aan ’n verfbal- en airsoft-byeenkoms deelgeneem, wat spanbou en gemeenskapsbetrokkenheid onder die jeug versterk het.

AfriForum se Krugersdorp-buurtspan het met hul sakskoonmaakprojek 273 sakke vullis verwyder, in samewerking met die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit, wat die verwydering van sakke ondersteun het. Verder is nog 60 sakke vullis en gras op verskeie plekke in die dorp opgetel onder meer by die Paul Kruger-monument, waar besoekers van die Paul Kruger-monument se ewebeeld – wat in Orania opgerig is – verwelkom is.

Die span het saam met gemeenskapslede ook drie ingange op Robert Broom-weg help versper om onwettige storting te verhoed – ’n stap wat verdere besoedeling en misbruik van die gebied suksesvol voorkom het.

Volgens AfriForum se Krugersdorp-tak beklemtoon hierdie inisiatiewe dat selfdoen, spanwerk en burgerlike verantwoordelikheid die kern van ’n veilige en ordelike gemeenskap vorm.

“Oktober was ’n maand van ware samewerking. Ons lede het gewys dat wanneer mense saamstaan, enigiets moontlik is,” sê die takbestuur.

AfriForum bedank elke patrolleerder, gemeenskapslid en sekuriteitsvennoot wat hierdie suksesse moontlik gemaak het.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf