|

AfriForum se nuwe Nelspruit-buurtspan hou dié stad in stand

AfriForum se Nelspruit-tak in Mbombela het die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit vandag in ’n brief amptelik in kennis gestel van die organisasie se bekendstelling van sy buurtspan. Hierdie span is saamgestel om die instandhouding en netheid van Mbombela se openbare ruimtes en infrastruktuur te verbeter weens die munisipaliteit se toenemende gebrek aan dienslewering.

Volgens Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak, het plaaslike AfriForum-lede die takbestuur ’n duidelike mandaat gegee om praktiese stappe te neem om die toestand van die stad te verbeter.

“Ons kan eenvoudig nie langer toekyk hoe ons dorp agteruitgaan nie. Ons lede in Mbombela het ons die mandaat gegee om self betrokke te raak en daadwerklik iets te doen. Ons span werk reeds die afgelope twee maande permanent om parke en sypaadjies se gras te sny, rommel op te tel en die algehele netheid van verskeie gebiede in die stad op te knap,” sê De Beer.

Die span het die afgelope twee maande reeds meer as 10 hektaar se gras gesny, en 15 ton se vullis en 25 waentjie-vragte tuinvullis van parke en groenstroke in die dorp verwyder.

AfriForum het in die brief beklemtoon dat die organisasie graag saam met die Mbombela-munisipaliteit wil werk om die stad op te knap en in stand te hou. “Ons is bereid om saam te werk waar moontlik maar indien die munisipaliteit nie bereid is om te help nie, sal ons voortgaan – met of sonder hulle, want die inwoners van Mbombela verdien beter,” sê De Beer verder.

AfriForum se Nelspruit-tak versoek dat die munisipaliteit betrokke raak by die proses om sodoende samewerking te bevorder, maar beklemtoon dat gemeenskappe die reg én die verantwoordelikheid het om op te tree waar dienslewering in gebreke bly.

AfriForum moedig  inwoners aan om by die plaaslike tak betrokke te raak en saam te werk om Mbombela se strate, parke en openbare ruimtes weer ’n bron van trots vir almal te maak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf