|

AfriForum se Oos-Rand-takke pak veiligheid, opknapping én instandhouding met mening

AfriForum se takke aan die Oos-Rand laat beslis nie die gras onder hul voete groei nie. Vrywilligers is gereeld besig met selfdoenaksies met die oog op die opheffing van hul gemeenskap en woonbuurte om dié gebiede mooier én veiliger plekke te maak om te woon. In die eerste van twee artikels val die kollig vandeesweek op AfriForum se takke in Edenvale, Kempton Park, Boksburg, Brakpan en Springs.

Edenvale

Hierdie tak het sedert die begin van die jaar al nagenoeg 30 skoonmaakaksies aangepak. Vrywilligers van dié tak herstel ook gereeld slaggate, verwyder rommel en maak parkies skoon. Die werk word meestal op Saterdae gedoen met die vrywilligers en ’n paar plaaslike betaalde werkers wat twee tot drie aksies per maand aanpak. “Daar is ’n sigbare verskil wanneer die tak ’n aksie aangepak het,” sê Nadia Olckers, AfriForum se koördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum se tak in Edenvale het vanjaar reeds nagenoeg 30 skoonmaakaksies aangepak.

Kempton Park

Kempton Park se gesondheidsentrum is in 2020 tydens die Covid-19-pandemie geopen en speel vandag nog ’n belangrike rol in die voorsiening van basiese mediese sorg aan lede van dié gemeenskap.

“Die tak in Kempton Park het die afgelope jaar die Zuurfontein-begraafplaas ’n fokuspunt van baie aksies gemaak. Verskeie skoonmaakaksies is by die begraafplaas aangepak en meer as 200 sakke vullis is reeds hier verwyder. “Die tak se veiligheidspan se teenwoordigheid by die begraafplaas op spesifieke dae bied boonop aan lede van die publiek die geleentheid om die begraafplaas onder hul wakende oog en op ’n veilige wyse te besoek,” vertel Olckers.

Die publiek kan op sekere dae onder AfriForum se Kemptonpark-tak se waaksame oog veilig geliefdes se grafte by die Zuurfontein-begraafplaas besoek.

Boksburg

In Mapleton het AfriForum se Boksburg-tak ’n groot bydrae gelewer met die herstel van ’n strook slaggate in Northernweg. Die tak het die projek befonds en saam met ’n plaaslike kontrakteur die herstelwerk gedoen.

“Hierdie projek volg ná bykans twee jaar van onbeantwoorde klagtes aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit. Die herstelwerk bring direkte verligting vir inwoners en ondernemings wat daagliks van die pad gebruik maak en stel ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe self oplossings kan dryf,” verduidelik Olckers.

In Mapleton het AfriForum se Boksburg-tak ’n groot bydrae gelewer met die herstel van ’n strook slaggate in Northernweg.

Brakpan

Hierdie tak het in 2025 gefokus op opleiding, veiligheid en rampbestuur. Opleiding aan buurtwaglede is aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Ekurhuleni-metropolisie om buurtwaglede in staat te stel om misdaad- en ongelukstonele doeltreffend te beheer. Buurtwaglede het ook opleiding in gevorderde noodhulptegnieke ontvang.

Die Brakpan-tak se Forum vir Gemeenskapsveiligheid, Rampbestuur, Inligtingspan en Lugvleuel het saam met strategiese vennote operasies onderneem om onwettige mynbousindikate (bekend as zama-zamas) vas te trek. Hierdie inligtingsgedrewe aksies het ’n beduidende impak op die bekamping van onwettige mynbedrywighede tot gevolg gehad en die veiligheid van inwoners in dié gemeenskap verbeter.

AfriForum se Brakpan-tak het verskeie opleidingsessies gedurende 2025 aangebied.

Springs

AfriForum se Springs-tak was in 2025 met allerlei aktiwiteite besig. Die tak het vier jaar gelede die George Sutter-park aangeneem en hou sedertdien die dam skoon en die park in stand. In 2025 is daar ook skoonmaakaksies by die Protea-, Violet- en Struisbultparke sowel as by Casseldale en Daggafontein onderneem waar inwoners en AfriForum-lede hande gevat het om gras te sny, rommel te verwyder en veiligheid te verbeter. Tydens die reuseskoonmaakaksie wat by Struisbultpark aangepak is, het 15 gemeenskapslede met trekkers en ander toerusting dié park opgeknap. “Hierdie soort samewerking beklemtoon die belangrikheid van inwoners wat self verantwoordelikheid vir hul omgewing neem,” sê Olckers.

AfriForum se Springs-tak gebruik ’n trekker tydens sommige van hul skoonmaakaksies.

Die Springs-tak se buurtwag ry ook gereeld patrollies en dié gemeenskapsaksie het vanjaar verskeie suksesse tot gevolg gehad. Buurtwagpatrollies het vanjaar reeds gelei tot die inhegtenisname van minstens een verdagte, die konfiskering van toerusting wat vir inbrake gebruik word en ondersteuning tydens veldbrande.

In die volgende artikel stel Forum Nuus ondersoek in na die bedrywighede van AfriForum se takke in Alberton, Benoni en Germiston.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid