|

AfriForum se Pretoria-takke pak staatsverval aan met #OnsDorp-veldtog

AfriForum se Pretoria-takke het in September en Oktober as deel van die organisasie se #OnsDorp-veldtog ’n reuse-impak in hul onderskeie gebiede gemaak, waaronder die sny van altesaam 121 000 vierkante meter se gras. Hierdie landwye veldtog vorm deel van AfriForum se selfdoen-filosofie, waardeur gemeenskappe nie op die staat wag nie maar self verantwoordelikheid neem om ’n toekoms vir hul buurt, dorp en land te bou. Taklede het hul moue opgerol, eienaarskap van hul omgewing geneem en hul gemeenskappe met trots gedien deur middel van grootskaalse verfraaiing- en beveiligingsprojekte.

AfriForum-takke in die Jakarandastad, wat hul gemeenskappe met dié veldtog gedien het, is Garsfontein/Faerie Glen, Moreletapark, Centurion, Pretoria-Wes, Groter Moot, Wes-Moot, Noord van die berg, Apiesrivier, Rayton/Cullinan, Bronkhorstspruit en Pionier. Hierdie takke het ook altesaam 1 157 sakke vullis verwyder, 28 slaggate herstel, 3,5 km se padlyne geverf en 63 ton se herwinningsmateriaal versamel. Hulle het ook verskeie gemeenskapsveiligheid-projekte uitgevoer, waartydens patrolleerders meer as 10 000 km afgelê het, die oprig van sekuriteitskameras en ligte om kritieke infrastruktuur en die suksesvolle blus van 10 brande.

“Onder die #OnsDorp-vaandel het AfriForum-takke oor die land heen ingespring met projekte – van slaggate herstel en strate oorverf tot grootskaalse skoonmaakprojekte, herwinning en veiligheidsinisiatiewe. Dié aksies getuig van AfriForum-lede se selfdoen-gees en bereidwilligheid om terug te baklei teen verval,” sê Llewellyn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Volgens AfriForum wys veldtogte soos #OnsDorp die krag van gemeenskappe wat saamstaan om hul omgewing te verbeter. Dié burgerregteorganisasie beklemtoon dat die plaaslike takke net so sterk is as die lede wat dit ondersteun en dat elke burger ’n verantwoordelikheid het om ook skouer aan die wiel te sit.

“Die boodskap is eenvoudig – ons wag nie, ons doen. Daarom moedig AfriForum gemeenskappe aan om aan te sluit by hul plaaslike tak en deel te word van hierdie beweging wat saam aan ’n vry, veilig en voorspoedige toekoms vir ons nageslag bou,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Sluit aan by AfriForum deur www.wordlid.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf