AfriForum se Swellendam-tak opgelei om veldbrande te bestry
Die AfriForum-tak in Swellendam het op 7 November opleiding in die bestryding van veldbrande ondergaan om die gemeenskap se paraatheid en reaksievermoë in noodgevalle te versterk. Dié opleiding is deur 13 persone bygewoon, waaronder lede van AfriForum se plaaslike buurtwag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en plaaslike wetstoepassing.
Die opleiding is aangebied as deel van AfriForum se breër strategie om gemeenskappe meer weerbaar te maak teen krisisse soos veldbrande. Daar is spesifiek gefokus op voorbereiding en beplanning vir die komende brandseisoen — onder meer hoe om brandpaaie doeltreffend te beplan en in stand te hou, hoe om reaksieplanne op te stel wanneer brande uitbreek en hoe om samewerking tussen gemeenskappe, boere en AfriForum-strukture te versterk om vinniger en veiliger op te tree.
Vrywilligers is tydens die sessie opgelei om verskillende tipes veldbrande te identifiseer en te hanteer, asook om die nodige veiligheidsprosedures te volg tydens brandbestryding.
AfriForum se Swellendam-tak is reeds aktief betrokke by verskeie gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe en speel ’n deurslaggewende rol in die beveiliging van die dorp. Die tak se buurtwag werk nou saam met die SAPD en plaaslike wetstoepassingsdienste en stuur gereeld projekte soos hierdie van stapel om hul gemeenskap veiliger te maak
“Deur opleiding soos hierdie aan te bied, rus ons gemeenskappe toe om selfstandig, voorbereid en doeltreffend te reageer wanneer rampe toeslaan,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis. “Ons glo proaktiewe beplanning en samewerking tussen strukture kan lewens en eiendom red.”
AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots.
Sluit vandag nog aan by AfriForum se Swellendam-tak en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.



