|

AfriForum stel petisie teen verkoop van ikoniese Bloem-eiendomme bekend

Die AfriForum-takke in Bloemfontein doen ’n beroep op die gemeenskap om die organisasie se petisie teen die beoogde vervreemding en verkoop van verskeie munisipale eiendomme, waaronder die Tempe-lughawe en die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill, te onderteken.

Volgens Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum in Bloemfontein, is die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se besluit om hierdie eiendomme te vervreem nie net onverskillig nie, maar ook in stryd met die wet en die beginsels van verantwoordelike openbare bestuur.

“Hierdie eiendomme behoort aan die gemeenskap, nie aan die politieke elite wat dit agter geslote deure wil verhandel nie. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat strategiese en historiese grondgebied, soos die Tempe-lughawe en Naval Hill, sonder behoorlike openbare deelname en deursigtigheid vervreem word nie,” sê Groenewald.

AfriForum wys daarop dat hoewel die munisipaliteit slegs 14 projekte of ‘eiendomme’ in sy openbare kennisgewing gelys het, die werklikheid is dat hierdie projekte saam 153 individuele erwe dek wat oor verskeie stadsdele en landelike gebiede versprei is. Hierdie grootmaat-vervreemding het verreikende gevolge vir stedelike beplanning, omgewingsbewaring en openbare toegang tot strategiese grond.

Die petisie volg nadat AfriForum reeds op 23 Oktober ’n formele brief van beswaar aan die Mangaung-metro gerig het waarin versoek is dat die proses onmiddellik gestaak word totdat behoorlike konsultasie met die publiek plaasgevind het. Geen terugvoer is ontvang nie. Intussen het die organisasie ook sy regsverteenwoordigers by Hurter Spies Ing. opdrag gegee om verdere stappe te oorweeg indien die metro nie aan sy wetlike verpligtinge ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid voldoen nie. Hurter Spies Ing. het op 10 November ook ’n brief aan die munisipaliteit gerig waarop 14 dae gegee is om te reageer, maar dié brief is ook geïgnoreer.

Die AfriForum-petisie is deel van die organisasie se volgehoue poging om openbare deelname te herstel en beskerm. Die organisasie moedig inwoners van Bloemfontein, Heidedal, Botshabelo en Thaba ‘Nchu aan om hul stem te laat hoor en die petisie te onderteken.

“Gemeenskappe in die Mangaung-metro moet self sê ‘genoeg is genoeg’. Hierdie grond is deel van ons erfenis en gemeenskaplike belang. Ons sal nie toekyk terwyl dit vir korttermynwins verkwansel word nie,” sluit Groenewald af.

AfriForum bevestig dat die organisasie die saak regmatig gaan voortsit indien die munisipaliteit nie die proses stopsit totdat ’n openbaredeelnameproses plaasgevind het nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf