AfriForum Teater amptelik die beste in Pretoria

In die aanloop tot AfriForum Teater se vyfde bestaansjaar, het die teater vandeesweek nóg ’n rede gekry om te vier. Dié tuiskomplek vir Afrikaanse kunste is tydens vanjaar se Best of Pretoria-toekennings deur die publiek aangewys as die beste teater in Pretoria.

Die toekennings, wat deur die gemeenskapskoerant Rekord aangebied word, erken ondernemings en instellings wat uitsonderlike diens en gehalte aan die hoofstad se gemeenskap bied. Dié eer is vir AfriForum Teater ’n besonderse mylpaal wat die groei, toewyding en gemeenskapsgees van die afgelope vier jaar bevestig.

“Wat ’n ongelooflike eer en voorreg om as Beste Teater in Pretoria aangewys te word!” sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater. “Dit is ’n riem onder die hart om hierdie toekenning te vier in een van Pretoria se mooiste maande. Dankie aan ons gehoor en ons gemeenskap – julle ondersteuning maak AfriForum Teater die tuiskomplek van Afrikaanse kuns en kultuur. Julle is die rede waarom ons elke dag die ligte aanskakel, musiek voel en stories vertel.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, voeg by: “Ons is baie trots op hierdie toekenning, want die bedoeling met hierdie teater was juis om ’n tuiskomplek vir die gemeenskap te wees en ons is dankbaar om daardie erkenning te kry vanuit die gemeenskap self.”

Sedert die opening in 2021 het AfriForum Teater reeds vier oorspronklike musiekblyspele op die planke gebring, meer as 1 000 vertonings en konferensies aangebied en talle skole verwelkom met musiekblyspele, gala-aande, revues en ander produksies. Die teater het dit gevestig as ’n lewendige spilpunt vir Afrikaanse uitvoerende kunste en ’n ruimte waar kunstenaars en gehore mekaar vind.

Met groot verwagting kyk AfriForum Teater na 2026, waarin nuwe kreatiewe projekte en vars ervarings wag. Besoek www.afriforumteater.co.za om te sien watse produksies tans op die planke is.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners