AfriForum veroordeel Gautengse departement van Vervoer se voorneme om nuwe nommerplate sonder enige koste-aanduiding in te stel

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

Die Gautengse departement van Vervoer het in reaksie op AfriForum se aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aangedui dat hulle nie in staat is om enige aanduiding te gee wat die provinsie se beoogde nuwe nommerplate die verbruiker gaan kos nie. AfriForum meen dit is teleurstellend en gaan nou verdere druk op die owerhede plaas om die hele projek uit te stel totdat daar meer duidelikheid daaroor is.

AfriForum het in Junie ’n PAIA-aansoek ingedien, nadat ’n loodsprojek vir nuwe nommerplate van stapel gestuur is, waartydens die nuwe plate op die Gautengse regering se vlootvoertuie aangebring is. AfriForum het onder meer versoek wat die beoogde koste en die gepaardgaande herregistrasiekoste van hierdie nommerplate gaan wees; hoe lank voertuigeienaars gaan hê om na die nuwe nommerplate oor te skakel; en op watter navorsing die besluit geskoei is om nommerplate met bykomende veiligheidskenmerke te vereis. Die departement het ná drie maande ’n lywige antwoord verskaf, maar dit bevat nie enige aanduiding van beraamde koste vir voertuigeienaars of ’n tydlyn van implementering nie.

Die loodsprojek is veronderstel om ses maande te duur, waarna die nuwe nommerplate na die res van die voertuie in die provinsie uitgebrei moet word. Met minder as twee maande oor, het voertuigeienaars dus nog geen idee wat dit hulle uit die sak gaan jaag en hoeveel tyd hulle daarvoor gegun sal word nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, gaan hierdie projek miljoene Gautengers affekteer en is dit onaanvaarbaar dat almal nog in die duister gehou word oor basiese inligting soos die koste en tydlyn daarvan. “Dit is duidelik dat die regering blind is vir die ekonomiese uitdagings wat Gautengers in die gesig staar as hulle die hele nommerplaatstelsel wil verander sonder om eens te beraam wat dit die verbruiker gaan kos.”

Alhoewel die departement van Vervoer statistiek gedeel het oor voertuigkapings en -diefstal, is daar geen navorsing wat toon dat hierdie misdaad aan swak nommerplaatgehalte te wyte is nie. “Die probleem is nie soseer dat daar nuwe nommerplate beoog word nie – die probleem is dat die provinsiale regering dit nie behoorlik kan motiveer nie, nie weet wat dit motoriste gaan kos nie en nie behoorlik beplan het hoe lank dit gaan neem om in te faseer nie,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf