AfriForum verseker dat ligte aan bly in Sannieshof
Die inwoners van Sannieshof kan nie boet vir die munisipaliteit se sloerdery met dispute nie. Dít is AfriForum se mening ná die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit vanaf 16 Oktober begin het om inwoners se kragtoevoer af te sny weens agterstallige munisipale rekeninge.
Talle van die inwoners wat hierdeur geraak word het voorheen dispute met die munisipaliteit verklaar en AfriForum het die munisipaliteit daarop gewys dat hierdie optrede teenstrydig is met artikel 102(2) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000) wat bepaal dat kragtoevoer nie afgesny kan word terwyl ’n dispuut nog hangend is nie.
AfriForum het reeds sedert begin September verskeie skrywes aan die munisipaliteit gerig oor munisipale rekeninge wat nie afgelewer word nie en rekeninge wat foutief is. Die munisipaliteit het nie reageer nie.
Ná verskeie oproepe aan die munisipalieit het AfriForum daarin geslaag om die onwettige aksie deur die munisipaliteit gestaak te kry en te verseker dat inwoners se krag aan bly. AfriForum het ook uitgewys dat die munisipaliteit se rekeninge afdeling deeglik ondersoek moet instel na die dispute en dit eers moet oplos voordat enige verdere stappe gedoen mag word.
“AfriForum sal nie toelaat dat die munisipaliteit onwettig optree nie en sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat inwoners die nodige ondersteuning ontvang. Die Tswaing-munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid teenoor sy inwoners om te verseker dat die regte prosedures deur die munisipaliteit gevolg word. AfriForum sal aanhou druk toe pas om te verseker dat die munisipaliteit die nodige aandag gee aan die dispute wat verklaar is en dit so spoedig as moontlik oplos,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
AfriForum se Sannieshof-tak is onlangs geherorganiseer en beplan om verskeie projekte aan te pak voor die einde van die jaar.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke by www.wordlid.co.za.



