AfriForum versoek G20-lande se steun om eiendomsreg te beskerm en plaasmoorde te beveg
Die burgerregteorganisasie AfriForum, het die G20-lande versoek om tydens diplomatieke gesprekke met die Suid-Afrikaanse regering tydens die G20-beraad en daarna, te vra dat eiendomsreg in Suid-Afrika gerespekteer moet word en dat daar daadwerklik opgetree moet word om plaasmoorde te bekamp. Die organisasie het skrywes aan die G20-lande se ambassades gerig en ook oplossings vir hierdie knelpunte voorgehou.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het plaasmoorde en die disrespek vir eiendomsreg in Suid-Afrika reeds ’n direkte negatiewe impak op die komende G20-beraad gehad aangesien die VSA besluit het om die beraad weens dié knelpunte te boikot. Kriel wys daarop dat die G20-lande ’n konstruktiewe rol kan speel om nie net plaaslike verhoudinge in Suid-Afrika nie, maar ook internasionale verhoudinge te stabiliseer deur hulle steun toe te sê aan pogings om oplossings te kry ter beskerming van eiendomsreg en die bekamping van plaasmoorde.
“Dit is in die G20-lande se eie belang dat eiendomsreg in Suid-Afrika beskerm word, aangesien die miskenning van eiendomsreg belegging vanuit hulle lande in Suid-Afrika in gedrang kan bring en toekomstige beleggers sal afskrik. Die miskenning van eiendomsreg in plekke soos Zimbabwe en Venezuela het groot lyding vir die gewone mense van daardie lande teweeg gebring. Hiperinflasie, werkloosheid en groeiende armoede het gevolg,” sê Kriel.
AfriForum voer, volgens Kriel, uit lojaliteit teenoor Suid-Afrika en alle mense in die land, ’n veldtog om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig dat onteiening sonder vergoeding, soos vervat in die Onteieningswet, katastrofiese gevolge vir almal in die land sal inhou.
Van die oplossings wat AfriForum vir plaasmoorde en die beskerming van eiendomsreg voorstel, is soos volg:
Plaasmoorde
- President Cyril Ramaphosa moet versoek word om die “Kill the Boer”-dreunsang, wat ’n oproep tot etniese geweld teen Afrikaners is, onvoorwaardelik te veroordeel.
- Die Suid-Afrikaanse regering moet ten minste erkenning gee aan die feit dat plaasmoorde gepaard gaan met buitensporige marteling en geweld.
- Plaasmoorde moet tot prioriteitsmisdaad verklaar word, soos reeds die geval is met talle ander misdade — selfs renosterstropery is ’n prioriteitsmisdaad.
- Die regering moet besluit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens amptelik en op ’n beplande wyse moet saamwerk met plaas- en buurtwagte in Suid-Afrika, wat binne die raamwerk van die wet funksioneer.
Onteieningswet
- Die Suid-Afrikaanse regering moet hom verbind tot die beskerming van eiendomsreg.
- Artikel 12(3) van die Onteieningswet, wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, moet geskrap word.
- Artikel 19(2) van die Onteieningswet, wat toelaat dat onteiening plaasvind voordat daar uitsluitsel in die howe is, moet gewysig word.
AfriForum gaan ook in die komende week ’n verslag bekendstel rakende die skending van minderhede se menseregte in Suid-Afrika.



