|

AfriForum versoek owerhede: Help ouetehuis-inwoners wat in haglike omstandighede híér leef

Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit en die departement van Sosiale Ontwikkeling voel duidelik ’n veer vir die bejaarde inwoners van die Presidentia-ouetehuis in Springs. AfriForum het vandeesmaand al twee briewe aan die munisipaliteit en die departement gestuur waarin dié inwoners se haglike lewensomstandighede rakende die infrastruktuur beklemtoon word. Die munisipaliteit, wat aan die stuur is van die ouetehuis, het slegs ’n erkenning van ontvangs van die briewe gestuur. AfriForum het geen deeglike terugvoer oor die plan van aksie om die bejaardes se omstandighede te verbeter ontvang nie, terwyl daar ook nog geen fisiese verbetering aan die infrastruktuur aangebring is nie.

In dié briewe, wat op onderskeidelik 1 en 13 Oktober, gestuur is, doen AfriForum ’n beroep op die Ekurhuleni-metro en die departement om dringend in te gryp en ondersoek in te stel na bewerings van ’n gebrek aan instandhouding by die Presidentia-ouetehuis, geleë te Brandstraat in Geduld, Springs. Probleme rakende instandhouding dateer so ver terug as 2014 en laat die kwesbare inwoners moedeloos en gefrustreerd. AfriForum het aanvanklik teen 13 Oktober ’n volledige geskrewe reaksie op die eerste brief versoek maar toe niks ontvang is nie, is nog ’n brief aan die betrokkenes gestuur.

Kwessies waarmee inwoners daagliks moet saamleef, is geisers wat nie werk nie, lekkende en verstopte dreine, gebreekte toiletsitplekke, rioollekkasies, stukkende vensters en plafonne, vuil en onversorgde tuine en gebreekte kaste.

Wanneer gemeenskaplede aanbied om opknappings aan die perseel te doen, sal amptenare van die stadsraad na bewering ’n stokkie daarvoor steek. Intussen is daar aan AfriForum bevestig dat die opsigter van die ouetehuis nie toegelaat word om enige herstelwerk self uit te voer nie maar slegs probleme mag aanmeld, wat ongelukkig geen resultate oplewer nie.

’n Verdere bekommernis is die verswakte sekuriteitsinfrastruktuur. Die gebreekte palissades en die hoofhek van die perseel, wat bedags oopgelaat word, hou veiligheidsrisiko’s in, terwyl daar alreeds inbrake op die perseel aangemeld is.

“AfriForum sal aanhou om druk toe te pas totdat die bejaarde inwoners ’n skoon en veilige tuiste het waarin hulle met gerustheid kan leef,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf