AfriForum verwelkom Sanparke se verwerping van voorgestelde naamsverandering vir Krugerwildtuin
AfriForum verwelkom Hapiloe Sello, uitvoerende hoof van Sanparke, se duidelike stelling dat die Krugerwildtuin se naam nie verander sal word nie. Haar uitspraak bevestig wat AfriForum van die begin af volgehou het: dat die Krugerwildtuin ’n erfenisskat van enorme waarde vir Suid-Afrika is en dat pogings om die naam te verander wettiglik ongegrond, verdelend en skadelik is.
“Dit is ’n oorwinning vir die oppergesag van die reg en vir gesonde verstand,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake. “Dit wys dat opportunistiese politici nie bloot amptelike prosesse kan omseil of nasionale erfenis vir politieke punte kan gebruik nie.”
Intussen is AfriForum se onlangse petisie teen die Krugerwildtuin se voorgestelde naamsverandering ook deur meer as 1 100 mense onderteken.
AfriForum hoop dat Sanparke se ferm standpunt die saak eens en vir altyd tot rus sal bring sodat die aandag kan terugkeer na die werklike uitdagings wat bewaring, toerisme en gemeenskapsontwikkeling om die Krugerwildtuin in die gesig staar.



