AfriForum vra dat Khampepe-kommissie ook politieke inmenging ondersoek wat verhoed het dat ANC-leiers vir terreurdade tydens apartheid vervolg word
Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag, 10 Oktober, ’n formele voorlegging by die Khampepe-kommissie van ondersoek ingedien waarin versoek word dat die kommissie in sy ondersoek na waarom sommige midade wat deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) geïdentifiseer is destyds nie vervolg is nie, ook ondersoek instel na die politieke inmenging wat veroorsaak het dat senior ANC-leiers wat nie amnestie ontvang het nie, nie vervolg is vir terreurdade tydens die apartheidsera nie. Die sluitingsdatum om voorleggings in te dien was 10 Oktober.
Die Khampepe-kommissie is tot stand gebring ná druk deur veral die families van die Cradock-4 om antwoorde te kry vir die oorsake van die vertraging in die ondersoek en vervolging van misdade wat deur die WVK geïdentifiseer is. Volgens AfriForum verdien die families van die slagoffers van die ANC se landmyn- en bomaanvalle op burgerlikes soos die Van Eck-familie en ander, nes die Cradock-4, se families ook antwoorde. Die antwoorde sluit in waarom geen ANC-leier vervolg is vir hierdie misdade nie.
AfriForum se voorlegging aan die Khampepe-kommissie spruit voort daaruit dat die organisasies reeds in 2007 een van sy lede, Dirk van Eck, bygestaan het om geregtigheid te probeer kry vir sy vrou, Kobie, en twee van sy kinders, Nasie (2) en Nelmari (8), wat in Desember 1985 in ’n ANC-landmynaanval vermoor is. Van Eck self en sy 18-maande oue seun is ook beseer in die ontploffing. Die ANC-landmyn het ook tot die dood van drie ander onskuldige burgerlikes, Marie de Nysschen en twee kinders Kobus (3) en Carla (9) gelei. Die oorledenes het agter op ’n bakkie gestaan om wild te besigtig. Die geweld van die ontploffing het daartoe gelei dat geen oorskot van die tweejarige Nasie gevind kon word nie.
Ten spyte daarvan dat die WVK die ANC aan growwe menseregteskendings skuldig bevind het, die landmynaanvalle deel was van die ANC se “Operasie Cetshwayo” en die ANC ’n dag ná die landmynaanval op die Van Ecks self verantwoordelikheid daarvoor aanvaar het, is die ANC se senior leierskap nooit vervolg nie. Dieselfde senior leierskap het selfs in 1985 tydens ’n vergadering by Kabwe in Zambië terreurdade op burgerlikes, soos die landmynaanvalle, goedgekeur.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Van Eck en AfriForum destyds gevra dat die boek van die verlede ter wille van versoening gesluit moet word, maar dat sou vervolgings wel plaasvind dit ook ter wille van gelykheid voor die reg die vervolging van ANC-leiers wat terreurdade op politieke vlak goedgekeur het en nie amnestie ontvang het nie, moet insluit.
“Die Nasionale Vervolgingsgesag het onlangs begin om eensydig lede van die voormalige veiligheidsmagte vir verskeie misdade te vervolg, maar weier steeds om politieke redes om ook ANC-leiers se wandade te ondersoek. Daarom vra AfriForum opnuut dat die boek van die verlede gesluit word, maar dat as dit nie gebeur nie, die ANC-leiers wat nie amnestie ontvang het nie ook ondersoek sal word ter wille van gelykheid voor die reg,” sê Kriel.
AfriForum se voorlegging aan die kommissie beklemtoon dat daar duidelike bewyse is van politieke inmenging binne die NVG om nie ANC-leiers te vervolg nie. Adv. Paul Fick SC het byvoorbeeld tydens ’n onlangse gesprek met Kriel aangedui dat hy opdrag van die destydse Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Adv. Bulelani Ngcuka, ontvang het om nie verder ondersoek in te stel na ANC-leiers se betrokkenheid by hierdie terreurdade nie, en die dossiere is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teruggegee sonder enige vervolging. Adv. Vusi Pikoli, voormalige Direkteur van Openbare Vervolging, het ook in ’n eedsverklaring ter ondersteuning van die families van anti-apartheidsaktiviste se saak, aangedui dat daar politieke inmening was om nie sake wat deur die WVK vir verdere ondersoek en vervolging na die NVG verwys is, te vervolg nie. Dit sluit sake teen ANC-leiers in.
AfriForum vra in sy voorlegging aan die Khampepe Kommissie onder meer om:
- Die ondersoek uit te brei om politieke inmenging te ondersoek wat veroorsaak het dat senior ANC-leiers nie vervolg is nie;
- te verseker dat aanbevelings van die kommissie ook die belange van die families van slagoffers van ANC-terreur insluit;
- aan te beveel dat die beginsel van gelykheid voor die reg gehandhaaf word. Sou voormalige lede van die veiligheidsmagte vervolg word, ANC-leiers wat verantwoordelik was vir misdade en nie amnestie ontvang het nie, ook vervolg word.
Agtergrond:
Die WVK het bevind dat “ … ANC to be responsible for a range of gross human rights violations arising out of unplanned operations; the bombing of public buildings, restaurants, hotels and bars: the landmine campaign in the northern and north-eastern parts of South Africa ….”
Die landmynaanvalle waaraan die WVK die ANC skuldig bevind het, het gevolg op ’n besluit van die organisasie se politieke leiers in Junie 1985 tydens hul Nasionale Konferensie in Kabwe, Zambië, dat die onderskeid tussen harde en sagte teikens moes verdwyn. Daar is besluit dat tereuraanvalle ook landmynaanvalle sou insluit. Die ANC se landmynveldtog is “operasie Cetshwayo” genoem. Hierdie besluite is geneem in stryd met Protokol I van die Geneefse Konvensie, wat uitdruklik die teiken van burgerlikes en die gebruik van metodes soos landmyne wat nie tussen burgerlike en militêre teikens onderskei nie, verbied. Dit het plaasgevind ten spyte daarvan dat die ANC reeds in 1980 hierdie protokol onderteken het.
Ná die Kabwe-konferensie was die meerderheid van die ANC se terreurdade teen onskuldige burgerlikes gerig. In totaal is ongeveer 700 burgerlikes op wrede wyse vermoor deur middel van die halsnoer-metode (waarby ’n brandende motorband om die slagoffer se nek geplaas is), 400 is op ander maniere lewend verbrand, en 250 is dood in bomontploffings en skietvoorvalle wat deur die ANC en hul bondgenote uitgevoer is.
Die ANC self het heelparty van hierdie terreurdade waarvoor hulle verantwoordelik was in hul publikasies, soos SECHABA en MAYIBUYE, op verskeie geleenthede vermeld.



