AfriForum vra dringende ingryping by gevaarlike paaie om Sasolburg
Die AfriForum-tak in Sasolburg doen ’n dringende beroep op die Vrystaatse departement van Polisie, Paaie en Vervoer om ’n volledige ondersoek na die vervalle toestand van die R59 en provinsiale paaie om Sasolburg van stapel te stuur. Die organisasie waarsku dat die huidige toestand van hierdie paaie lewensgevaarlik is, wat daagliks die veiligheid van duisende padgebruikers bedreig. Dié gevaarlike toestande het reeds tot talle motorongelukke—insluitend noodlottige ongelukke—gelei.
In die brief, wat op 24 November aan die departement gerig is, lys AfriForum verskeie kritieke risiko’s wat onmiddellike aandag verg, waaronder talryke en groot slaggate op die R59 en die afrit vanaf die R57, wat motoriste dwing om skerp te swenk — dikwels in die pad van aankomende verkeer; die gevaarlike kruising by die Shell-vulstasie by die ingang van Sasolburg waar spoedbeperkingsborde verwyder is, wat daartoe lei dat vragmotors teen 100 tot 120 km per uur jaag; en gereelde motorongelukke, waarvan sommige noodlottig is—volgens inwoners vind daar minstens een ernstige ongeluk maandeliks by hierdie gevaarlike kruising plaas.
Hierdie faktore, tesame met die gebrek aan waarskuwingstekens en behoorlike onderhoud, skep ’n omgewing waarin padongelukke en selfs sterftes gereeld voorkom. Luidens AfriForum kan behoorlike onderhoud en beter beplanning by die kruising dit egter voorkom.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die afwesigheid van onderhoud, inspeksie en basiese padveiligheidsmaatreëls nie net nalatig nie, maar ook wettig en moreel onverdedigbaar.
In die brief vra AfriForum ook vir dringende herstelwerk, met behoorlike waarskuwingstekens totdat herstelwerk voltooi is, asook skriftelike bevestiging van die departement se beplande optrede binne sewe werksdae. Indien die departement versuim om binne hierdie tydperk (teen 4 Desember) te reageer, sal AfriForum regsoptrede oorweeg op grond van growwe nalatigheid en skending van die grondwetlike reg op lewe en veiligheid.
AfriForum waarsku dat inwoners van Sasolburg en omliggende gebiede nie langer aan hul lot oorgelaat kan word nie. Anders as gewone slytasie, is die huidige verval die gevolg van langdurige staatsverwaarlosing en gebrek aan verantwoordbaarheid.
“Ons lede sit met motorbande wat bars, voertuie wat beskadig word en paaie wat lewens neem. Dit is totaal onaanvaarbaar dat hierdie situasie voortduur terwyl die staat wetlik verplig is om veilige paaie te handhaaf. Wat bemoedigend is, is dat ons dadelik terugvoer van die Vrystaatse departement van Polisie, Paaie en Vervoer, ontvang het, wat onderneem het om die brief na die betrokke persone wat daarmee gemoeid is, te verwys,” sluit Pretorius af.
Die organisasie sal hierdie saak noukeurig moniteer en voortgaan om druk uit te oefen totdat die departement sy pligte nakom.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak Braam Muller by 076 125 7773.



