AfriForum vra ingryping by waterkrisis in Venterspos en Glenharvie
AfriForum het ’n beroep op die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit gedoen om die watertoevoer na Venterspos en Glenharvie onmiddellik te herstel en te verseker dat die watergehalte geskik is vir menslike gebruik. Inwoners van dié dorpe gaan die afgelope drie weke gebuk onder ernstige wateronderbrekings met min tot geen water in hul krane. Intussen is gemeenskappe afhanklik van watertenkwaens wat water voorsien.
Dié onderbrekings het reuse-ontwrigtings in die dorpe veroorsaak. Skole het onder meer vroeër gesluit en leerders huis toe gestuur omdat daar nie water is nie. Alhoewel plaaslike amptenare van die probleem bewus is, voel inwoners dat hul bekommernisse geïgnoreer word.
Intussen is die presiese oorsaak vir die gebrek aan water onduidelik. Nadat gefrustreerde inwoners op 17 Oktober betoog het om optrede van die munisipaliteit te eis, is vasgestel dat die wateronderbrekings na bewering die gevolg is van die munisipaliteit se agterstallige skuld aan Rand Water. Luidens ’n kennisgewing deur Rand Water beloop die munisipaliteit se skuld meer as R820 miljoen.
Volgens ’n ander weergawe word die wateronderbrekings toegeskryf aan tientalle waterlekkasies. As gevolg van gebrekkige herstelwerk aan hierdie lekkasies loop die reservoirs leeg.
In ’n brief wat AfriForum op 29 Oktober aan die Rand West City-munisipaliteit gerig het, eis die organisasie dat die inwoners van Venterspos en Glenharvie weer water in hul krane het – wat ook al die rede vir die gebrek daaraan. AfriForum versoek ’n gedetailleerde aksieplan wat tydlyne, mylpale en die name van verantwoordelike amptenare of departemente insluit. Die organisasie sê verder ook dat duidelike en tydige kommunikasie sal help om frustrasie en onsekerheid in die gemeenskap te verlig.
“Die inwoners is moedeloos en kry geen antwoorde nie, maar ons sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas totdat daar weer water is,” sê Ester Swart, voorsitter van AfriForum se Westonaria-tak.



