| |

Afrikaans 100 – Taalheld 10 – Jaap Steyn, die ingetoë biograaf van Afrikaans

Member only content

Sommige helde is groter as lewensgroot. Hulle word wyd gesien en gehoor. Ander is stiller, stemmiger, skugter, maar hulle invloed is enige dag net so groot of selfs groter as dié van die ander. So ’n persoon was Jaap Steyn – iemand wat as joernalis, dosent, kultuurhistorikus, navorser, biograaf, skrywer en digter met uitnemende werk diep voetspore nagelaat het.

Jacob Cornelius Steyn is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara in die omgewing van Fouriesburg gebore. In 1944 het die gesin na die plaas Omdraai-Noord in die distrik Petrus Steyn verhuis. Sy grootwordjare in die Vrystaat het ’n groot rol in sy lewe en sy skryfwerk gespeel, soos selfs gesien kan word in sy laaste boek, So is onse mense, wat in 2022 postuum verskyn het.

Hy het in 1955 aan die Hoërskool J.A. Malherbe op Petrus Steyn gematrikuleer en daarna met ’n beurs van Die Volksblad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer. In 1958 het hy ’n BA-graad met onderskeidings in sy hoofvakke, Afrikaans/Nederlands en Duits, behaal.

Na afloop van hierdie studies, het sy loopbaan in Januarie 1959 by Die Volksblad begin waar hy tot in Julie 1964 werksaam was en opeenvolgend die poste van verslaggewer, vertaler, sub- en hoofsubredakteur beklee het. In hierdie tyd het hy ook ’n BA Honneurs- en MA-graad met lof in Afrikaans en Nederlands behaal.

Vanaf Augustus 1964 het hy sy studies in Nederland aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam voortgesit en sy studiegeld aangevul met berigte wat hy vir Die Volksblad en Die Burger as korrespondent geskryf het.

Hierna het ’n lang en suksesvolle loopbaan aan die Universiteit van Port Elizabeth, Randse Afrikaanse Universiteit en Universiteit van die Oranje-Vrystaat gevolg. Van Julie 1974 tot Augustus 1975 was hy ook ’n hoofredaksielid van Rapport.

Só is hy ses keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Hy het naamlik die Eugene Maraisprys vir sy debuutdigbundel Die grammatika van liefhê (1975), die C.J. Langenhoven-prys vir taalwetenskap (1988), die Elisabeth Eybersbeurs vir navorsing in Nederland (1996), die N.P. van Wyk Louw-medalje vir die volgehoue uitbouing van vertakkings van die geesteswetenskappe (2000), die Stals-prys vir geskiedwetenskappe vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (2003) en die Louis Hiemstra-prys vir nie-fiksie vir Die 100 jaar van M.E.R (2005) ontvang. In 2015 is erelidmaatskap van die akademie ook aan hom toegeken.

Daarbenewens was hy in 2017 die tweede ontvanger van die Jan H. Maraisprys. Hierdie prys se doel is om erkenning te gee vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Dit is tans die grootste prys wat vir ’n akademiese bydrae in Afrikaans toegeken kan word.

Op grond van publikasies soos Tuiste in Eie Taal (1980) en Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014) kan daar met reg van hom as die biograaf van Afrikaans gepraat word.

Prof. Jaap Steyn

Selfs in sy gedigte was sy liefde vir sy moedertaal en kommer oor die toekoms daarvan vervleg. Oor die bogenoemde bundel, Die grammatika van liefhê, word gesê dat hy hom daarmee bewys het as ’n besonder fyn kenner van taal en die moontlikhede van woordspel, terwyl hy op die temas van liefde, maar ook taal en die taalsituasie in die land gefokus het. Sommige van sy gedigte kan selfs as profeties beskou word, byvoorbeeld Vrede wat as tema die sterfte van Afrikaans het nadat vrede in Suid-Afrika bereik is – ’n realiteit waarteen ons ’n halfeeu later probeer walgooi.

In sy aanvaardingstoespraak tydens die oorhandigingseremonie van die Jan H. Maraisprys het hy hom só oor Afrikaans uitgespreek:

Ek en my tydgenote aan die gewese Universiteit van die Oranje-Vrystaat het die voorreg van ’n Afrikaanse opleiding geniet.

Baie van ons het gekom uit plattelandse skole in die sentrale en westelike dele van die land en ons sou baie moeilik die mas kon opkom sonder moedertaalonderrig tot op universiteit.

Dit is nog so vir baie studente uit daardie streke. Daarom is dit so harteloos dat verskeie histories Afrikaanse universiteite Afrikaans afskaf of uitfaseer.  Dit het ernstige gevolge vir skole, die gemeenskap en vir Afrikaans as literêre en wetenskapstaal …

Afrikaans is kwesbaarder as ander tale in lande waar die universiteite al hoe meer Engels invoer. In daardie lande behou die volkstaal belangrike funksies. Dit word gebruik in die parlement, in staatspublikasies, in wette, op die regbank, in die landsbestuur, belangrike werkkringe en vir die openbare uitsaaiers. Afrikaans moet belangrike funksies op hierdie terreine prysgee.

Gelukkig is daar instellings en persone wat werk om Afrikaans as intellektuele en wetenskapstaal te behou.

Na sy onverwagse dood op 6 September 2021, het sy susterskind Marthie Kemp ’n huldigingsbundel saamgestel uit die herinneringe en meelewingsbetuigings van vriende, familie, kollegas en ander. Dit skep ’n beeld van hoe ’n uitsonderlike mens hy was, van sy ondeunde humorsin, sy nederigheid en die onmeetbare positiewe invloed wat hy op soveel mense gehad het. Woorde soos rolmodel, lojaliteit, integriteit en briljant word herhaaldelik deur die wye spektrum mense wat bydraes gelewer het, gebruik.

Hy het ’n leemte gelaat wat nooit ten volle gevul sal kan word nie, maar sy publikasies sal geslagte ná ons nog steeds op die pad van Afrikaans kan begelei.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners