Wink die einde vir Afrikaans? Dit sal die dag wees!
Deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het vroeër vandeesmaand ’n voorlopige verslag oor die stand van Afrikaans in verskeie sektore bekendgestel. Die navorsing is onderneem na aanleiding van ’n soortgelyke studie wat oor Nederlands onderneem is.
Tans is verskeie tale onder die druk van tale met groot wêreldwye groepe sprekers, byvoorbeeld Engels, Frans, Spaans en Arabies. In die geval van Suid-Afrika word die situasie verder gekompliseer deur politieke motiewe, maar die rol van politiek is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Ook nie pogings om die taal te beskerm daarteen en dit lewenskragtig te hou nie.
Wat die verengelsing van universiteite aanbetref, was daar byvoorbeeld ook al hofstryde in Italië en Nederland om moedertaalonderrig in tersiêre instellings te probeer behou.
Drukgroepe skep op alle kontinente bewusmaking oor die noodsaak van moedertaalonderrig, maar tog is daar altyd ouers wat swig voor die propaganda dat een van die groot wêreldtale hul aspirasies vir hul kinders meer moontlik as hul eie moedertaal sal maak. Die teendeel wat telkemale deur navorsing van die hoogste gehalte bewys word, gaan hulle eenvoudig verby, dikwels ten koste van die geestelike en fisiese welstand van hul kinders.
Dat daar dus afnames in openbare Afrikaanse skole is, is geen verrassing nie. Afgesien van ouers wat ’n keuse vir Engelstalige onderrig uitoefen, is daar ook ander faktore wat ’n rol speel, byvoorbeeld minder geboortes onder Afrikaanssprekendes, emigrasie, asook die groeiende gewildheid van privaat onderrig en tuisonderrig.
Met kinders wat verengels, is dit ook vanselfsprekend dat die gebruik van Afrikaans in gesinsverband en selfs in ruimtes soos waar godsdiens beoefen word, ook sal groei. Hoe permanent hierdie taalverskuiwing is en wat die gehalte van die Engels wat gebruik word is, is belangrike vrae.
Ongelukkig kan die mediaberigte en -onderhoude wat die afgelope week in reaksie op die bekendstelling van die voorlopige verslag verskyn het, die indruk skep dat Afrikaans op haar laaste bene is.
Dit is allermins die geval. Kommentaar deur lede van die publiek na aanleiding van hierdie berigte bewys dat Afrikaanssprekendes baie sterk oor hul taal voel en waar ruimtes vir die gebruik daarvan afgeskaal word, nuwe ruimtes geskep word.
Goeie voorbeelde van instellings wat juis gedy weens hul onbeskaamde gebruik van die taal, strek van die groei in die studentetal en aanbod van kursusse aan Sol-Tech en Akademia, tot kommersiële dienste soos Virseker. Die Afrikaanse Wikipedia het al meer as 126 000 inskrywings en word al nagenoeg twee na drie miljoen keer per maand geraadpleeg. So groei Weet ook tans om veral aan leerders inligting oor onderwerpe te gee wat met die kurrikulum verband hou. ’n Tyd lank het wynprodusente hul etikette verander om net Engels te wees om sogenaamd internasionale kopers te lok, tot ’n paar besef het dat die Afrikaans op die etiket juis van hul wyn iets unieks maak wat ’n buitelander aantrek en waarna ’n beduidende persentasie van die plaaslike mark soek. Oor die sukses van Afrikaanse kunstefeeste, letterkunde en musiek, hoef ons nie eens uit te wei nie. Selfs wat nuwe tegnologie aanbetref, word die waarde van Afrikaans besef en lewer maatskappye soos Prepaid24 diens in die taal. Daar is selfoon- en rekenaarstellingsopsies, asook al meer botte wat Afrikaans kan “praat”. Diegene wat belê in die ontwikkeling van hierdie tegnologie het duidelik genoeg vertroue in die toekoms van die taal om tyd en kapitaal daaraan te bestee.
Ongelukkig word goeie taalgebeure selde as nuuswaardig beskou, terwyl die minder positiewe gebeure en kontroversie in hoofopskrifte neerslag vind.
AfriForum doen ’n beroep op Afrikaanssprekendes – trouens op alle sprekers van inheemse tale in die land – om te kies vir opsies in hul moedertaal en waar dit nie beskikbaar is nie, daarvoor te vra, of dit self te skep.
Of dit oor taal in onderrig, dienste, godsdiensbeoefening of waar ook al gaan, miljoene mense praat steeds Afrikaans, gebruik dit daagliks op alle vlakke en sal dit ondersteun waar dit beskikbaar is.
Die Afrikaanse segment van die mark het hulself al bewys as kapitaalkragtig en lojaal. Hulle is egter ook fynproewers wat hou van kwaliteit produkte en dienste. Nét Afrikaans en sentiment sal nie genoeg wees nie. Moeite moet gedoen word om te sorg dat die aanbod wat aan hulle beskikbaar gestel word, van hoë gehalte is.
Dit is wêreldwyd ’n kulturele feit dat mense stroom na die omgewings waar hulle tuis voel. Dit is een van die redes waarom kunstefeeste so ’n sukses is in die land – dit skep ruimtes waarbinne mense onbeskaamd hul taal en kultuur kan uitleef. Diegene wat dienste lewer moet ook op hierdie feit ag slaan.
Kleiner tale stoei wêreldwyd met die vraag hoe hulle hul tale moet bemark. Plaaslik gryp ons graag na nostalgie, maar soos ’n Maori-taalaktivis by ’n kongres my gewaarsku het, mag dit tot gevolg hê dat die taal later as iets verstok en oud gesien word, en nie as ’n lewenskragtige taal waarmee ons die twee-en-twintigste eeu tegemoet kan stap nie.
Navorsing en verslae oor die stand van taal is belangrik, maar van meer belang is hoe ons deurgaans al hierdie feite in gedagte hou met die gebruik en bemarking van Afrikaans. Daar is ook geen finale oplossings nie – elke geslag kom voor nuwe uitdagings te staan, maar die feite bly dieselfde, naamlik dat moedertaalonderrig die beste opsie vir alle kinders en vir so lank as moontlik in hul akademiese loopbaan is, en dat taal nie net ’n kommunikasiemiddel is nie, maar ’n onlosmaaklike deel van elke mens se identiteit. Neem die taal weg, en jy knou die mens as geheel. Om hierdie rede moet ons jaloers waak oor ons taal en sorg dat ons geslag dit sterker oordra aan dié ná ons, as wat ons dit ontvang het.



