Amanda Strydom eersdaags in The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder by AfriForum Teater te sien
Op Saterdag 31 Januarie om 19:00 verwelkom AfriForum Teater die legendariese Amanda Strydom terug na die verhoog met haar bekroonde produksie, The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder – ’n meesleurende musiekverhaal wat die hart aanraak en die verbeelding vlerke gee. Die produksie is geskryf én opgevoer deur Strydom self, met Coenraad Rall aan die klavier – haar getroue musiekmaat oor vele jare heen.
Die produksie is ’n reis van hoop, humor en herontdekking vir die kind Isabella Dolorosa van Tonder, oftewel Tinkerbell soos haar Granny haar genoem het. Amanda Strydom, in die rol van Nella Petersen, vertel die storie van ’n jong meisie se reis deur ’n lewe vol pyn, hoop, avontuur en uiteindelike tuiskoms, verweef met musiek wat die gees van die Suiderland oproep. “Life is a journey, wie is djy nou om die transport te question?” sê Nella, en so neem Strydom haar gehoor saam op ’n pad deur tale en kulture – Afrikaans, Engels, Khoi, Frans en Nederlands – in ’n betowerende vertelling wat ewe diep menslik as poëties is.
“Strydom kan nie net sing nie, sy is boonop ’n bobaas storieverteller. Sy laat jou lag en sy laat jou peins. Dis immers waaroor vermaak gaan,” het Marguerite Robinson van Beeld destyds gesê.
The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder spog met twee groot teatertoekennings. Dié produksie het die gesogte Woordtrofee vir Beste Musiekproduksie in 2024 by die Stellenbosch Toyota Woordfees gewen, asook die Aardklop-toekenning vir Beste Musiekgedrewe Produksie in 2025.
Dis ’n egte feëverhaal met kinkels, hart en humor, maar dit is beslis nie vir kinders bedoel nie (geen onder 15’s toegelaat nie).
Die besonderhede van dié besonderse produksie is as volg:
Datum: Saterdag 31 Januarie 2026
Tyd: 19:00
Plek: AfriForum Teater, Pretoria
Klavier: Coenraad Rall
Geskryf en opgevoer deur: Amanda Strydom



