AfriForum sit stééds artikel 18(3)-stryd voort in Ngwathe-saak
AfriForum se dringende aansoek om ’n hofuitspraak in sy diensleweringshofsaak teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te laat implementeer hangende die munisipaliteit se appèl daarteen, is vandeesweek weens die omvang daarvan van die dringende hofrol verwyder. Die saak sal nou later aangehoor word sodat die regter in dié saak genoeg tyd gegun kan word om die omvangryke stukke in hierdie saak wat reeds in 2024 begin is, kan bestudeer.
Dié besluit volg in reaksie op die deurslaggewende oorwinning wat AfriForum op 20 Junie vanjaar in die Bloemfonteinse Hooggeregshof behaal het waartydens regter J.P. Daffue bevind het dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie. Hy het daarom as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp. Die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is boonop op 19 Augustus van die hand gewys. Die munisipaliteit het hom egter intussen na die Hoogste Hof van Appèl gewend.
AfriForum het derhalwe ’n dringende aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 gebring om te vra dat regter Daffue se hofbevel intussen geïmplementeer kan word. AfriForum se regspan sal die aansoek nou weer op die rol laat plaas. Hoewel dit nou nie meer op ’n dringende grondslag sal geskied nie, hoop AfriForum dat die aansoek vanjaar nog aangehoor sal word.
Indien hierdie aansoek slaag, sal dit verseker dat die noodsaaklike ingryping waarna die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit smag én waarop hulle geregtig is, geïmplementeer kan word ongeag die appélaansoekproses by die Hoogste Hof van Appèl – ’n proses wat etlike jare kan neem om afgehandel te word.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is AfriForum en sy regspan optimisties dat ’n gunstige uitspraak in sy artikel 18(3)-aansoek sal volg. “Die besluit om die aangeleentheid nie op ’n dringende basis aan te hoor nie, wys dat regter Sharon Chesiwe die erns, omvang en impak van hierdie saak gewigtig genoeg ag om dit indringend te ondersoek. Dit is geensins ’n oorwinning in Ngwathe se guns soos wat die munisipaliteit nou in die media dit wil laat blyk nie. Hul waninterpretasie van die hof se besluit dui op ’n onkunde oor die regsproses. Daar wag beslis ’n verrassing op die munisipaliteit as hulle dink dat die saak nou verby is,” verduidelik Pretorius.
Pretorius benadruk voorts dat die munisipaliteit onder die wanindruk verkeer dat AfriForum, met die artikel 18(3)-aansoekproses, poog om die munisipaliteit “onmiddellik oor te neem”. “Die aansoek is stel dit duidelik dat AfriForum die uitspraak wat reeds in Junie vanjaar in die hof gelewer is rakende die implementering van Artikel 139 van die Grondwet, nou in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe wil laat voltrek. Die Junie-uitspraak maak dit duidelik dat die Vrystaatse provinsiale regering moet ingryp en dit is wat AfriForum nou eis,” beklemtoon Pretorius.
“Ondanks die munisipaliteit se bewerings dat dienslewering hier nou vlot verloop, trek inwoners steeds swaar. Daar is steeds daagliks inwoners wat sonder water en krag moet klaarkom en die munisipaliteit het nie eens die toerusting om sekere kritieke funksies te vervul nie. Die Parys Crater Street Mile, ’n prestige sportgeleentheid wat hierdie naweek in Parys aangebied word, het die munisipaliteit se ernstige tekortkominge weer beklemtoon. Die munisipaliteit het nie die teer of toerusting gehad om slaggate op hierdie roete te herstel nie, AfriForum het dit voorsien. In ’n poging om in eie belang aan die mag hier vas te klou, verspil die munisipaliteit boonop duisende rande op sy appèlproses, terwyl dié fondse veel eerder op die verbetering van dienslewering hier bestee kon word,” luidens Pretorius.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê dit is vir AfriForum en die gemeenskap ’n teleurstelling dat die hofverrigtinge so uitgerek word, terwyl daar steeds nie noemenswaardige verbetering in die dorp plaasvind nie. Kritieke aspekte soos water en krag is volgens Burger steeds in ’n haglike toestand. Voorts kommunikeer die munisipaliteit steeds nie met die gemeenskap oor die ware toedrag van sake in die dorp nie en daar is geen samewerking met gemeenskapsorganisasies nie.



