Beboet dié wat onwettige mynbouaktiwiteite naby Krugerwildtuin onderneem – AfriForum
AfriForum het deur middel van sy regspan daarop aangedring dat die departement van Minerale Hulpbronne en Energie en die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing direktiewe uitreik teen die partye wat verantwoordelik is vir die beskadiging van die ekologiese sensitiewe gebied naby die Krugerwildtuin. Die onwettige boor- en verkenningsaktiwiteite wat op verskeie Tenbosch-, Turfbelt- en Tecklenburg Ranch-gronde plaasgevind het, maar intussen op AfriForum se aandrang gestaak is, het die omgewing reeds beskadig.
Die burgerregteorganisasie het vandeesweek die onderskeie departemente genader nadat dit onlangs aan die lig gekom het dat mynbouaktiwiteite binne die buffersone van die Krugerwildtuin onregmatig onderneem is. Hierdie aktiwiteite is uitgevoer sonder die nodige omgewingsmagtiging, mynreg-aansoek (MP30/5/1/2/2/10259 MR) of gemeenskapsinstemming en het reeds tot sigbare omgewingskade en moontlike besoedeling gelei.
“AfriForum het bevestig dat die boorwerk tans gestaak is en dat die toerusting verwyder is, maar die betrokke gebiede is nietemin ernstig versteur. Daar is boonop nog geen rehabilitasiewerk begin nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.
“AfriForum eis daarom dat die owerhede die wet toepas en die verantwoordelike partye beboet en verplig om die terrein te herstel om verdere onwettige aktiwiteite in hierdie ekologies sensitiewe gebied te voorkom.”
In die skrywe eis AfriForum dat die onderskeie departemente binne 30 dae formele direktiewe ingevolge artikel 28 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 (NEMA) uitreik om die betrokke partye te verplig om:
- Alle ongemagtigde aktiwiteite onmiddellik te staak;
- Die omgewingsimpak te ondersoek en te evalueer; en
- Volledige herstelmaatreëls te begin en binne bepaalde tydsraamwerke te voltooi.
AfriForum het verder gemaan dat indien die departemente nie betyds optree nie, die organisasie die hof sal nader om hulle te verplig om die betrokke wetgewing af te dwing.
“Hierdie voorval benadruk die nodigheid vir aanspreeklikheid. Onwettige mynbouaktiwiteite in die omgewing van die Krugerwildtuin is nie net ’n oortreding van die wet nie, maar bedreig een van Suid-Afrika se belangrikste natuur- en biodiversiteitsgebiede,” sê De Klerk.
Die burgerregteorganisasie gaan nie in hierdie stadium ’n dringende interdik bekom nie, maar enige hervatting van boor- of konstruksieaktiwiteite sonder geldige magtiging sal verdere regstappe noodsaak.



