Betaling vir tydelike bestuurderslisensies geld steeds, al beloof Creecy die teendeel

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)

AfriForum het bevestiging van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) se nasionale oproepsentrum ontvang dat betaling vir die aanskaffing van tydelike bestuurderslisensies steeds geld. Dit ten spyte daarvan dat Barbara Creecy, minister van Vervoer, reeds verskeie kere in die parlement en die media beloof het dat dié fooi – te midde van die voortslepende agterstand in die uitreiking van bestuurderslisensiekaarte – geskrap sal word. Die burgerregteorganisasie dring nou by die minister aan dat die fooi onmiddellik geskrap moet word.

Creecy het in reaksie op parlementêre vrae en medianavrae gesê dat daar op ’n ministeriële vergadering op 27 Junie besluit is om dié fooi, ten bedrae van R72 per tydelike lisensie, te skrap. Sy het die besluit verlede maand nog in die parlement herhaal en bygevoeg dat die besluit aan die onderskeie departementshoofde gekommunikeer is. Die RTMC se nasionale kantoor het egter op 13 Oktober telefonies en per e-pos aan AfriForum bevestig dat die koste van ’n tydelike lisensie steeds R72 beloop. Dié aanspraak is ook deur twee lisensiehernuwingsentrums in Gauteng bevestig.

Die minister bring volgens AfriForum die publiek, die media en die parlement onder ’n wanindruk deur aan te voer dat die fooi op dié lisensies as vergunning vir die probleme met die uitreik van nuwe lisensies geskrap is. Boonop word daar steeds geld ingevorder op ’n buitengewoon groot hoeveelheid tydelike lisensies.

“As die minister op 27 Junie reeds besluit het dat dié lisensies gratis moet wees, waarom word die R72 steeds gehef?” vra Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder. “’n Mens sou kort ná die besluit geneem is, nog aan die minister die voordeel van die twyfel kon gee en aanneem dat die implementering van die besluit tyd sou neem, maar as sy drie maande later nog dieselfde aansprake maak, terwyl dit nog nie op grondvlak geïmplementeer is nie, kom dit neer op blatante oneerlikheid.”

AfriForum oorweeg intussen regstappe om die minister te dwing om dié besluit wat in die parlement aangekondig is, te implementeer. Die organisasie benadruk voorts dat die krisis sal voortduur solank as wat daar nie een of meer nuwe, funksionele bestuurderlisensiekaartdrukkers aangeskaf word wat lisensies vinnig en betroubaar kan druk nie.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik