Bethlehem-paaie: Verf nuwe padmerke voor feesseisoen, eis AfriForum
AfriForum se Bethlehem-tak doen ’n beroep op die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit om onmiddellik nuwe padmerke te verf en foutiewe verkeersligte te herstel voordat nóg lewens in gevaar gestel word. Inwoners spreek al vir ’n geruime tyd hul kommer uit oor die gebrek aan duidelike padmerke op verskeie hoofpaaie in Bethlehem.
Met die feesseisoen om die draai en Bethlehem wat ’n gewilde oorstopplek vir vakansiegangers is, bestaan daar ernstige kommer oor die moontlike toename in ongelukke as gevolg van die munisipaliteit se gesloer om noodsaaklike herstelwerk en opknappings aan paaie te voltooi.
Kerk- en Mullerstraat, wat elk drie bane behoort te hê, het tans min tot geen padmerke nie. Hierdie gebrek aan sigbare padmerke, wat veronderstel is om die bane aan te dui, veroorsaak verwarring onder motoriste en het reeds tot verskeie ongelukke gelei.
Benewens die ontbrekende padmerke, bly die verkeersligte by besige kruisings ook ’n groot veiligheidsrisiko. Die verkeerslig by Mullerstraat en Hospitaalweg is al vir ’n geruime tyd foutief, ten spyte van talle klagtes en versoeke van die publiek om dit te herstel. Dit is alombekend dat ongelukke op ’n gereelde basis daar voorkom, maar steeds bly die verkeerslig foutief.
In ’n brief, wat AfriForum op 7 Oktober aan die munisipaliteit gestuur het, versoek die organisasie ’n duidelike tydsraamwerk vir wanneer die padmerke op Muller- en Kerkstraat oorgeverf sal word; en ’n datum vir die herstel van die foutiewe verkeerslig by die kruising van Mullerstraat en Hospitaalweg.
“Dit is ’n munisipaliteit se grondwetlike plig om die veiligheid van sy inwoners te verseker, maar tog faal die Dihlabeng-munisipaliteit klaaglik daarin. Dit is onaanvaarbaar dat getroue belastingbetalers se lewens so min werd is vir die munisipaliteit,” sê Christa Ikking, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoogland.
Intussen het AfriForum se plaaslike buurtspan reeds verskeie afwesige padmerke in die woongebiede geverf, maar dit bly steeds ’n druppel in die emmer teenoor die hoeveelheid werk wat daar steeds in die dorp gedoen moet word.
AfriForum eis ’n antwoord binne sewe dae van ontvangs van die brief.



