| |

Boerebande in verre lande 11 – Zuid-Afrikahuis, Amsterdam

Member only content

Wanneer jy langs Amsterdam se ikoniese Keizersgracht wandel, mag jy verras merk dat die statige gebou by nommer 141-C die naam “Zuid-Afrikahuis” vertoon. Dit is naamlik die tuiste van ’n unieke kultuur- en kennissentrum met ’n fokus op die tale, kultuur en geskiedenis van Suid-Afrika.

Die huis self is in ongeveer 1620 deur die Hasselaer-familie van Haarlem opgerig.  Dit het aanvanklik as die “Dubbel Arend” bekendgestaan, met verwysing na die dubbel arend op die Hasselaers se familiewapen. 

Die ontstaan van Zuid-Afrikahuis kan teruggevoer word na November 1923 toe ’n organisasie genaamd die Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland (Stigting ZASM) die huis vir die vestiging van ’n Suid-Afrikaanse kultuursentrum aangekoop het. Hulle het dit aanvanklik tot “Van Riebeeck Huis” herdoop, wat later Zuid-Afrikahuis sou word.

Op 19 Januarie 1984 het 30 anti-apartheidsaktiviste ’n deel van die instelling se kosbare boek- en dokumenteversameling in Keizersgracht gegooi en die biblioteek met verf toegetakel. Die skade kon gelukkig grotendeels deur kundige restourasie ongedaan gemaak word.

Die onderhoud daarvan het al groter eise aan die stigting begin stel tot dit oplaas moes oorweeg om die huis te verkoop. Deur bemiddeling van Koos Bekker van Naspers het dit egter behoue gebly en sedert 27 Maart 2014 is Stigting ZASM en Naspers gesamentlik die gelyke eienaars daarvan. Van 2014 tot 2015 is dit omvattend gerestoureer en op 12 Februarie 2016 heropen.

Joernaliste van Media24 kry sedertdien die geleentheid om twee maande lank in die huis tuis te gaan. In dié tyd word hulle aan die Nederlandse en breër Europese kultuur blootgestel en moet hulle oor hulle ervarings en gebeure aldaar vir hulle mediahuis skryf.

In die huis en pasgemaakte buitegeboue word ’n biblioteek bestaande uit sowat 56 000 titels, argief en beeldbank gehuisves. Die fokus was aanvanklik veral op materiaal in Afrikaans of met ’n oorwegend Afrikaner-gerigte tema, maar dit is mettertyd uitgebrei om Suid-Afrika as geheel in te sluit. Tans sal jy die grootste versameling Suid-Afrikaanse literatuur (feite en fiksie), DVDs, foto’s en ander historiese materiaal in Europa hier aantref.

Dit bied natuurlik ’n droombestemming vir navorsers aan, maar die huis word ook aangewend vir byeenkomste soos byvoorbeeld kuiergeleenthede vir Suid-Afrikaanse emigrante, taalkursusse, uitstallings en boekebekendstellings.

’n Besondere item in die huis is ’n olieverfskildery van Paul Kruger. Dit is in opdrag van Stigting ZASM deur die Nederlander Thérèse Schwartze (1851–1918) geskilder. Houtskooltekeninge deur haar van genl. C.R. de Wet, genl. Piet Joubert en Joubert se vrou, Hendrina (Drienie) word ook deur Zuid-Afrikahuis bewaar.

’n Olieverfskildery van Paul Kruger hang in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland (SZAHN) is van hier af werksaam. Dit sit die ideaal voort om kulturele kontak tussen Nederland en Vlaandere (België) met Suid-Afrika uit te bou en te versterk. Benewens dat dit die biblioteek en argief onderhou en funksies by die huis ondersteun, publiseer dit ’n tydskrif genaamd Spectrum met inligting oor Suid-Afrika en bande tussen die lande. Dit fasiliteer geleenthede in Europa soos die “Week van de Afrikaanse Roman” en “Festival voor het Afrikaans”, asook die voortbestaan en projekte van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands (Kaapstad). Verder finansier dit ’n leerstoel vir Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis aan die Universiteit van Amsterdam. Laasgenoemde het in 1933 ontstaan en is al deur bekendes soos N.P. Van Wyk Louw beklee. Studente word steeds deur middel van ’n skripsieprys en studiefonds ondersteun. Plaaslike, Nederlandse en Belgiese jongmense kry blootstelling aan mekaar se lande en kulture deur middel van die Jongerenprojek se studiereise waarby dit betrokke is.

Mense met ’n belangstelling in die werksaamhede van Zuid-Afrikahuis kan as “Vriende” daarby aansluit. Meer inligting hieroor is op die webtuiste https://www.zuidafrikahuis.nl/ beskikbaar. Vrywilligers word ook met ope arms verwelkom – daar is byvoorbeeld behoefte aan hulp met die stroming van funksies vanuit die huis en die samestelling van Spectrum en nuusbriewe.

Zuid-Afrikahuis se webtuiste rig die uitnodiging: “iedereen met hart voor Zuid-Afrika is baie welkom”. ’n Besoek daaraan word ten sterkste aanbeveel vir enigeen met ’n passie vir Nederlands-Suid-Afrikaanse bande, ons taal, geskiedenis en kultuur.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners