Die wêreld moet weet-verslag: AfriForum gaan toename in rassebeleide, menseregteskendings internasionaal verkondig
Deur Carina Bester
AfriForum het vandag op ’n mediakonferensie oor sy nuwe Die wêreld moet weet-verslag onder meer die erns van rassebeleide in Suid-Afrika uitgestippel, asook hoe minderheidsgroepe se regte in die land geskend word. Die burgerregteorganisasie het boonop besonderhede oor ’n komende internasionale skakelveldtog, waartydens die inhoud van die verslag met invloedryke individue in die Europese Unie gedeel gaan word, aangekondig.
AfriForum het reeds in 2020 al met sy Die wêreld moet weet-veldtog begin en verslae in dié verband is in 2020 en in 2022 gepubliseer. Die nuutste verslag handel breedvoerig oor die toename en felheid van rasse diskriminerende beleide, die skending van privaat eiendomsreg, hoe die menseregtesituasie in die land versleg het, asook oor die “Kill the Boer, kill the farmer”-dreunsang. Dit bied ook ’n blik op hoe minderheidsgroepe se taalregte – veral Afrikaners se taalregte – met die Bela-wet geteiken word, asook hoe minderheidsgroepe se erfenis, monumente en standbeelde bedreig word.
Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare betrekkinge, dokumenteer die verslag breedvoerig hoe Afrikaners en ander minderhede in Suid-Afrika geteiken, as sondebokke uitgekryt, uitgesluit, vermoor en teen gediskrimineer word.

Alhoewel die regering onlangs op sosiale media aangekondig het dat daar nie diskriminasie in die land is nie, toon dié verslag egter hoe minderheidsregte in 2025 geskend word. Al die gevalle in die verslag word ook deur een of meer bron bevestig.
Luidens die verslag het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) se Indeks vir Rasreg aangeteken dat die Suid-Afrikaanse regering tans 145 geldende raswette het, waarvan baie daarvan uitdruklik diskriminerend is. Uit die 324 rasgebaseerde wette wat die Suid-Afrikaanse parlement sedert 1910 aangeneem het, is 122 (oftewel 38%) daarvan aangeneem sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het.
“Hierdie verslag is ’n direkte teenvoeter vir die voortgesette ontkenning, sensuur en onderdrukkingstaktieke van die ANC-geleide Suid-Afrikaanse regering en sy spreekbuise in 2025. Daar kan dus nou nie meer gesê word dat AfriForum en Solidariteit disinformasie versprei nie,” het Van Zyl gesê.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die konferensie gesê dat raswetgewing ná 31 jaar permanent geword het terwyl sulke maatreëls volgens die Internasionale arbeidsorganisasie net tydelik van aard moet wees.
“Wat in hierdie verslag vervat is, is simptome van ’n breër probleem in die land. Dinge in die land het begin verkeerd gaan toe die ANC-regering nie by die 1994-ooreenkoms gehou het nie. Die ANC van vandag is ook nie meer die ANC van Nelson Mandela nie. Ons het ná die Mandela-era ’n toename in korrupsie gesien, maar ook dat daar toenemend wegbeweeg word van spesifiek die 1994-ooreenskoms,” het Kriel gesê.
Die verslag bevat voorbeelde van hoe die ANC die 1994-ooreenkoms verbreek het, aldus Kriel.
Die Bela-wet is volgens hom een van die grootste probleme, wat aan die regering die mag gee om ’n Afrikaanse skool se taalbeleid te verander. Hy beskou dit as die grootste daad van aggressie teenoor Afrikaanssprekende mense, maar ook teenoor Afrikaners.

Van Zyl het dit duidelik gemaak dat dit nodig was om hierdie verslag op te stel aangesien die regering die kwessies wat in die verslag vervat is, blatant ontken.
Die wêreld moet weet-verslag se bevindinge gaan ook later vandeesmaand by die Verenigde Nasies se jaarlikse Forum oor Minderheidskwessies voorgelê word. Dit en die Malema-dossier, wat in September gepubliseer is, gaan verder tydens die besoek aan invloedryke individue, instellings en organisasies in die Europese Unie versprei word.
Op eie bodem sal die verslag aan al die ambassades van die G20-lande oorhandig word om hulle in te lig oor die skending van minderheidsgroepe se regte in die einste land wat hulle vir vanjaar se beraad besoek.
Besoek www.diewereldmoetweet.co.za vir meer oor die veldtog en om die vorige twee verslae te lees. Lees die volledige verslag hier.



