Doen jou werk, NERSA – sê hof in saak oor Rustenburg-elektrisiteitsvoorsiening
AfriForum het Maandag, 6 Oktober, ’n reuse-oorwinning behaal ná die Hooggeregshof in Pretoria beslis het dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) hul verpligting as energiereguleerder moet nakom. Die saak is met koste gewen. Dit volg ná ’n jarelange stryd om die inwoners van Rustenburg te help om elektrisiteitsvoorsiening te kry.
Inwoners van Rustenburg sukkel al sedert 2021 met swak elektrisiteitsvoorsiening. Die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit, wat die lisensie vir kraglewering van NERSA ontvang het, het alle pogings om probleme die hoof te bied ignoreer en geen instandhoudingswerk aan die elektrisiteitsnetwerk verrig nie. Dit beteken dat daar daagliks vir ure lank kragonderbrekings is en oor die afgelope paar jaar het hierdie situasie vererger. Inwoners het hulself toe tot NERSA gewend om in te gryp, maar die energiereguleerder was nie daarvoor te vinde nie.
AfriForum het in 2024 ’n saak teen beide NERSA en die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit gebring om hulle te dwing om hul verantwoordelikhede teenoor die Rustenburg-gemeenskap na te kom. NERSA het nie die aansoek teengestaan nie.
Die Rustenburg-munisipaliteit het egter die saak teengestaan en gemeen dat AfriForum nie by regte is om die hof te nader om NERSA te versoek om hul werk te verrig nie. Dít ná die munisipaliteit nie eens hul eie verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap nakom nie. Volgens AfriForum kon die munisipaliteit die fondse en tyd wat hulle aan hierdie hofsaak spandeer het eerder gebruik om dienste aan die Rustenburg-gemeenskap te lewer.
Volgens Dalena Beyers, raadgewer oor Plaaslikeregeringsake by AfriForum, behoort hierdie oorwinning egter hoop te skep vir diegene wat in munisipaliteite woon waar dienslewering ook nie op standaard is nie.
“Die hof het bevestig dat hierdie swak dienslewering van NERSA ’n skandelike pligsversuim is, en dat hulle binne dertig dae moet begin om hulle werk te doen. Hierdie uitspraak wys dat AfriForum op die regte pad is en dat ons moet aanhou om op te staan vir die regte van inwoners wat deur hulle munisipaliteite en reguleerders in die steek gelaat word,” sê Beyers.
“As nasionale energiereguleerder het NERSA ’n wetlike verpligting om seker te maak dat lisensiehouers dienste lewer wat ’n sekere standaard handhaaf en indien dit nie gebeur nie moet NERSA die lisensie wegvat en ’n ander verskaffer die geleentheid gee om die diens te lewer. Ongelukkig lyk dit of NERSA nie meer in die belang van die publiek optree nie, wat vir AfriForum uiters kommerwekkend is,” meen Beyers.
Regter Nobanda het in haar uitspraak ook sterk kritiek teen NERSA gelewer en gesê dat die energiereguleerder klaaglik daarin misluk het om sy verantwoordelikhede soos dit in artikel 4(a)(7) van die Wet op Elektrisiteitsregulering (4 van 2006) uiteengesit is, na te kom. Sy het voorts gesê dat teleurstellend is wanneer die wetgewer statutêre liggame in plek sit om die regering se grondwetlike verantwoordelikhede teenoor Suid-Afrikaners te bestuur en hierdie liggame dan versuim om hulle verpligtinge na te kom en aanspreeklikheid vir hul mislukkings te aanvaar.
Volgens Beyers is dit kommerwekkend dat gemeenskappe hulle tot die howe moet wend net om staatsinstellings te kry om hulle werk te doen. “Hierdie hofaansoek was eenvoudig daaroor om NERSA te kry om na die Rustenburg-munisipaliteit se elektrisiteitsvoorsiening te kyk en daarvolgens op te tree. Dat ons ’n bevel van die hooggeregshof moes kry om dit te laat gebeur is eintlik tragies.”



