Drie munisipaliteite tree toe tot AfriForum-Nersa-hofsaak; reguleerder erken openbare deelname was onvoldoende
Twee metro’s en een plaaslike munisipaliteit het nou hul gewig by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingegooi in AfriForum se stryd teen Nersa se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse. Die Stad Kaapstad- en Johannesburg-metro sowel as die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het onlangs hul opponerende stukke geliasseer en sal aanstaande week saam met Nersa teen AfriForum te staan kom in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria.
AfriForum het die hof in Augustus genader om die openbare deelnameproses wat vir die instelling van die huidige finansiële jaar se nuwe munisipale kragtariewe gevolg is, ongeldig te laat verklaar, maar nie te laat hersien nie. Die burgerregteorganisasie versoek die hof voorts om ook ’n interdik uit te reik om gespesifiseerde tydlyne vir toekomstige openbare deelnameprosesse te verseker.
Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, bepaal wetgewing duidelik dat munisipaliteite se aansoek om die verhoging van kragtariewe ’n volledige kostestudie moet insluit.
“Die praktyk lyk egter heeltemal anders. Nersa keur steeds jaar na jaar munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings met of sonder kostestudies goed – ondanks twee hooggeregshofuitsprake wat hulle daarop wys dat verhogingsaansoeke sonder die nodige kostestudies nie oorweeg mag word nie,” verduidelik Steffens.
Indien AfriForum se aansoek teen Nersa suksesvol is, sal die energiereguleerder reeds aanstaande maand uitnodigings aan munisipaliteite moet uitreik om hul aansoeke teen Januarie 2026, twee maande vroeër as wat tans die geval is, in te dien. AfriForum versoek ook dat die finale besluit rakende tariefaansoeke teen Maart 2026 afgehandel moet wees. In hierdie stadium word aansoeke jaarliks eers teen die einde van Junie gefinaliseer.
Steffens hou vol dat die huidige tydlyne wat Nersa toepas vir die indiening, oorweging en goedkeuring van munisipale kragtariefverhogings, ondoeltreffend is en munisipaliteite se begrotingsprosesse en derhalwe ook begrotings onder druk plaas. “Luidens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur moet munisipaliteite reeds in Maart hul konsepbegroting in die munisipale raad laat goedkeur en om ’n deursigtige konsepbegroting te verseker moet ’n munisipaliteit goedgekeurde kragtariewe voorlê en nie net ramings nie. Dit kan egter nie nou gedoen word nie, aangesien Nersa teen daardie tyd nog besig is die aansoekproses. Dit wil sê ’n munisipaliteit moet ’n konsepbegroting indien sonder om te weet wat die omvang van sy grootste bron van inkomste – naamlik elektrisiteitverkope – kan wees. ’n Meer vaartbelynde proses sal derhalwe munisipaliteite én inwoners baat,” beklemtoon Steffens.
AfriForum se aansoek behels nie dat die 2025/2026-boekjaar se tariewe hersien moet word nie, maar dat daar vir die toekoms nuwe voorgestelde tydlyne ingestel moet word om ’n deursigtige en regverdige aansoekproses te help verseker. Nersa voer egter in hul antwoordende verklaring aan dat vanjaar se proses steeds geldig is. Die energiereguleerder erken egter dat hulle wel weens tydsbeperkings van die openbare deelnameproses moes afwyk.
“Nersa verklaar hiermee self in ’n eedsverklaring dat hul huidige proses nie genoeg tyd laat vir behoorlike openbare deelname nie. Tog bly hulle steeks en weier om die tydlyne aan te pas,” verduidelik Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake.
Die Johannesburg-metro en die Mogale City-munisipaliteit opponeer AfriForum se aansoek ten volle, terwyl Stad Kaapstad net die burgerregteorganisasie se aansoek ten opsigte van die aangepaste tydlyne opponeer. Die Wes-Kaapse metro is dit eens met AfriForum dat Nersa se huidige prosesse ernstige probleme vir die metro se begrotingsproses inhou, maar stel op hul beurt weer ’n alternatiewe aangepaste tydlyn voor. Stad Kaapstad versoek dat Nersa jaarliks teen Januarie hul finale besluit rakende Eskom se tariewe moet kommunikeer, dat munisipaliteite se aansoeke teen die einde van Maart ingedien moet word en dat Nersa die besluit daaroor teen 5 Mei moet aankondig.
Mostert benadruk dat dié saak van kritieke belang is vir die land se kragverbruikers. “Dit is noodsaaklik om te verseker dat die tariefaansoekproses jaarliks op ’n deursigtige en regverdige wyse aangepak word,” verduidelik hy. “Met hierdie aansoek wil AfriForum verhoed dat Nersa tariefverhogings enkele dae voor die begin van ’n nuwe boekjaar goedkeur sonder om die inhoud en regverdiging van die aansoek behoorlik te oorweeg.”
Die saak is geskeduleer om eerskomende Dinsdag (28 Oktober) aangehoor word.



