Gauteng aanlyn plasings laat ouers, skole rooi sien
Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op Matome Chiloane, die LUR vir Onderwys in Gauteng, om duidelikheid te gee oor die probleme wat tans met skoleplasings in Gauteng ondervind word. Dit volg ná talle klagtes van ouers in Pretoria en Centurion oor verkeerde of geen plasings van leerders vir die 2026-skooljaar.
Die probleme wat hierdie jaar weer na vore gekom het is onder meer dat daar geen korrespondensie of terugvoer oor plasings is wat ontvang is nie, hoewel plasings al sedert 16 Oktober plaasvind – ’n maand later as plasings vir die 2025-skooljaar. Dit is ook kommerwekkend dat die plasings teen die eerste week van November steeds nie afgehandel is nie.
Voorts plaas onvolledige kommunikasie oor leerders se plasingstatus ouers onder druk terwyl voorwaardelike keuses as finale plasings deur die stelsel aanvaar word hoewel dit nie die leerder of ouers se eerste keuse is nie.
Die plasings gaan steeds voort, maar daar is heelwat onsekerheid oor wanneer dit afgehandel gaan wees en wanneer die volgende groep leerders geplaas gaan word. Verder is daar talle skole met beskikbare plek wat nou gevul word met leerders wat nie op hul lyste geregistreer is nie.
“Die stelsel is veronderstel om die proses vir ouers en skole te vergemaklik, maar steeds na hoeveel jare kan die Gautengse Departement van Onderwys nie daarin slaag om die proses probleemvry te laat verloop nie,” sê Carien Bloem, hoof van onderwysprojekte by AfriForum.
“Ons is besig om die situasie te ondersoek en het per prokureursbrief ’n ernstige beroep op Chiloane gedoen om so gou as moontlik duidelikheid oor die probleme rakende die plasings te verskaf en met ouers en skole, wat negatief deur hierdie proses geraak word, te kommunikeer oor die pad vorentoe,” sluit Bloem af.
Indien daar enige inligting is wat ouers of skole onder AfriForum se aandag wil bring rakende die aanlynregistrasie- en plasingsproses is hulle welkom om ’n e-pos te stuur aan onderwys@afriforum.co.za.



