Gierigheid by uMngeni-uThukela vergiftig SA-watervoorsieningsketting: AfriForum soek nou antwoorde
AfriForum eis die onmiddellike bedanking van Khanyisani Stanley Shandu, ’n raadslid by uMngeni-uThukela Water (UUW), weens sy beweerde betrokkenheid by ’n pyplynskandaal van R390 miljoen. Dié pyplyn wat sowat R80 miljoen moes kos, het uiteindelik byna vyf keer meer gekos. Die organisasie versoek voorts dat alle dokumentasie wat verband hou met dié pyplyn openbaar gemaak word.
Dit volg ná dit aan die lig gekom het dat Shandu verbind word met die maatskappy wat gekontrakteer is om hierdie werk te verrig. Hoewel Shandu voorheen verklaar het dat hy ’n direkteur van dié maatskappy is, het hy nie sy voordelige eienaarskap en aandeelhouding in hierdie maatskappy verklaar nie.
AfriForum doen ook ’n beroep op Pemmy Majodina, minister van Water en Sanitasie, om die aanbevelings van die forensiese ondersoekverslag ten volle te implementeer, insluitend kriminele klagtes waar nodig.
Hierdie pyplynskandaal is volgens AfriForum meer as net nog ’n voorbeeld van korrupsie. Dit is eerder ’n gevallestudie van hoe Suid-Afrika se watervoorsieningstelsel van die raadsaal tot die kraan deur een enkele daad van geldgierigheid verbreek kan word.
Die raadslede van ’n waterraad soos UUW het een plig bo alles: om die integriteit van die stelsel en die openbare geld wat daaraan toevertrou is, te beskerm. Raadslede moet belangebotsings voorkom, goeie bestuur afdwing en die veilige en doeltreffende lewering van water verseker. Hulle word deur die minister van Water en Sanitasie aangestel om die wet te handhaaf, nie om dit vir persoonlike gewin te buig nie.
UUW is bedoel om die betroubare ruggraat van watervoorsiening vir groot dele van KwaZulu-Natal te wees, en grootmaatwater aan munisipaliteite soos eThekwini, Msunduzi, Ugu en iLembe te lewer. Tog knak dit reeds onder verouderende infrastruktuur, onderbelegging en die stygende vraag na water. ’n Groot gedeelte van sy netwerk funksioneer tans bo die kapasiteit wat daarvoor ontwerp is en die nodige opgraderings moes reeds jare gelede plaasgevind het om ineenstorting te voorkom.
Munisipaliteite skuld UUW meer as R2,7 miljard in onbetaalde rekeninge, ’n teken van swak bestuur wat die stelsel verder onder druk plaas. Dit laat die waterraad met minder geld om lekkasies reg te maak, aanlegte op te gradeer of in nuwe infrastruktuur te belê.
Wanneer instellings soos UUW beheer verloor, maak dit die deur oop vir misdadigers om dit wat ’n basiese openbare diens behoort te wees oor te neem. Die sogenaamde “watermafias” floreer in KwaZulu-Natal. Hierdie kriminele groepe beheer watertenkbedrywighede omdat grootmaatwaterinfrastruktuur in duie stort en wettige lewering vervang is deur chaos en korrupsie. Hierdie mafias buit die leemte uit wat deur swak bestuur en gebrekkige infrastruktuur gelaat word. Hulle saboteer kleppe, vandaliseer pompstasies en maak dan wins deur dieselfde water teen opgeblase pryse terug te verkoop aan desperate gemeenskappe.
“Suid-Afrikaners het alle reg om kwaad te wees. Wanneer ’n raadslid van ’n openbare instelling, soos Shandu sy posisie gebruik om ’n maatskappy wat met hom verbind is, te bevoordeel terwyl die stelsel onder hom in duie stort, vererger dit die lyding van mense wat daagliks vir skoon, betroubare water veg en verraai dit elke belastingbetaler wat hierdie instellings te goeder trou befonds,” sê Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.



