|

Grootoog-tak plant 27 bome in Keimoes

AfriForum se Grootoog-tak het Oktober op ’n groen voet afgeskop deur 15 wit karee-bome by Laer- en Hoërskool Keimoes te plant. Die skool het ’n groot behoefte vir bome en die witkaree, ’n inheemse boom, groei vinnig en is droogtebestand.

Dit is belangrik vir skole om bome te hê aangesien dit koelte verskaf vir kinders tydens pouses en ná skool, dit kan hulle ook help om beter te konsentreer en dra by tot die algehele voorkoms van die skool.

Die tak het ook gehelp om Yucca-bome by die NG Kerk-kompleks te plant om sodoende te help om veiligheid te verbeter. Dié stekerige plante help om misdadigers die skrik op die lyf te jaag en dit is juis wat nodig is ná ’n inbraak waartydens grootskaalse skade aangerig is. Die tak het ook 12 witkarees hier geplant.

“Ons as tak is werklik dankbaar dat ons die geleentheid het om jaarliks bome by verskillende skole te kan plant om sodoende ons jeug te leer hoe om na die omgewing om te sien en te beplan vir toekomstige geslagte,” sê Meisie Pool, voorsitter van AfriForum se Grootoog-tak.

Die tak bedank ook in besonder vir Dirk Malan, omgewingsbeampte van dié tak, wat altyd leiding bied met die uitkies van boomsoorte, die plant en versorging daarvan.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf