Haakplekke met skoleplasingstelsel bewys weer GDO se oneffektiwiteit – AfriForum
AfriForum verneem dat die haakplekke wat met Gauteng se aanlyn skoleplasingsplatform ondervind is, vanoggend reggestel is. Vele ouers was paniekbevange omdat hulle geen kennisgewings oor die plasing van hul kinders in graad 1 en graad 8 ontvang het nie, of voorlopige plasings goedgekeur het wat toe teen hulle wil sondermeer na finale plasings omgeskakel is.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is daar sedert die ontstaan van die stelsel jaarliks probleme daarmee. Dit het ’n groot administratiewe las vir al die betrokkenes tot gevolg en skep geweldige spanning by ouers én kinders.
“Direkte registrasie by skole was ’n veel eenvoudiger stelsel en ouers wat hulle kinders daarvolgens ingeskryf het, het die proses met gemoedsrus afgehandel. Nou is dit jaarliks ’n proses vol onsekerhede, selfs met kinders wat tot laat in die volgende skooljaar steeds nie geplaas is nie,” meen sy.
Die Gautengse Onderwysdepartement (GDO) is tans gereeld in die spervuur weens wanadministrasie – onder meer oor die sny van departementele poste by skole, dramatiese vermindering van kwintiel 5 skole se subsidies, onvermoë om begrotings te spandeer en probleme met infrastruktuur en veiligheid by skole. Met al hierdie bewyse van die GDO se wanadministrasie meen AfriForum dat dit tyd is om opnuut oor die wenslikheid van die aanlynplasingstelsel te besin.
Enigeen wat bewus is van stelselprobleme wat steeds voorkom, is welkom om AfriForum hieroor te kontak by onderwys@afriforum.co.za.



