|

Inwoners móét hul stemme laat hoor om Oudtshoorn-parke te red – AfriForum

Die aankondiging dat die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit die openbare deelnameproses vir die verkoop van 54 erwe, insluitend byna alle openbare parke, van vooraf gaan begin, het AfriForum genoop om inwoners tot aksie te roep. Die munisipaliteit is van voornemens om hierdie erwe, insluitend die Luscombe- en Middelweg-parke wat deur AfriForum onderhou word, op veiling te verkoop. Die AfriForum-tak in Oudtshoorn doen daarom ’n dringende beroep op inwoners om aktief by dié openbare deelnameproses betrokke te raak.

“Openbare ruimtes is noodsaaklik vir gesonde, inklusiewe en lewensvatbare gemeenskappe, daarom het ons meer van hierdie ruimtes nodig, nie minder nie. Die verlies van sulke ruimtes is onomkeerbaar,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suidstreek.

Die burgemeester se kantoor het sowat twee weke gelede aangekondig dat die afgelope openbare deelnameproses, wat in Augustus afgehandel sou wees, van voor af gaan begin. Dit volg ná verskeie vergaderings waarin AfriForum die enigste organisasie was wat sterk standpunt teen die verkoop van die parke ingeneem het. Drie openbare vergaderings sal nou gehou word. Een het reeds gister (11 November) plaasgevind, terwyl die ander een vandag (12 November om 18:00) by die Thusong-sentrum in Bridgton sal plaasvind en die laaste een Donderdag (13 November om 18:00) by die Dysselsdorp-gemeenskapsaal gehou sal word. Inwoners kan hiertydens amptelik kommentaar indien oor die voorgenome verkoop van die betrokke erwe.

AfriForum het reeds die amptelike vorms, waarop skriftelik beswaar aangeteken kan word, aan meer as 1 000 inwoners versprei en moedig alle inwoners aan om geskrewe besware by die vergaderings in te dien.

Erasmus sê die Luscombe- en Middelweg-parke is al reeds vir twee jaar lank, teen geen ekstra koste aan die munisipaliteit, onder AfriForum se sorg. AfriForum het reeds sover terug as 2019  bome in die Luscombe-park geplant en meer onlangs aktief begin gras sny, bemesting in te werk, rommel en indringergewasse te verwyder en selfs ’n muur van 145 m2 oor te verf. Die tak het ook ’n tafel en bankie laat installeer. Sedert AfriForum die parke begin versorg het, het dit in lushowe verander waarheen die gemeenskap van oor die dorp heen stroom om die groen gras en skadu te geniet.

AfriForum het reeds op 8 Augustus ’n beswaarskrif ingedien teen die verkoop van spesifiek die parke, met voorstelle vir alternatiewe oplossings. Gedurende ’n vergadering met die Oudtshoorn-munisipaliteit op 1 September, het die tak boonop ’n petisie met 260 handtekeninge teen die verkoop van die parke oorhandig. Die munisipaliteit het hiertydens bevestig dat hulle onder druk verkeer om hoëdigtheid-, laekostebehuising in die vorm van woonstelle te bou.

Gedurende AfriForum se vergadering met die munisipaliteit, is die park in Draaistraat oorweeg, aangesien daar reeds ’n transformator op die erf is en dit ruim genoeg is vir ’n woonstelblok. Nadat AfriForum onderhoude met omliggende inwoners gedoen het, het dit egter aan die lig gekom dat 13 uit 17 inwoners om die Draaistraat-park ontwikkeling teenstaan, veral die huishoudings met kinders.

Die munisipale raad, wat in daardie stadium reeds in Junie ten gunste van die verkoop van die parke gestem het, het aangebied om alternatiewe erwe wat ongeskik is vir ontwikkeling, in parke te omskep. AfriForum het egter bevind dat alternatiewe erwe – ten spyte van hul potensiaal – weens hoë koste en gebrek aan dienste nie tot parke omskep sal kan word nie. Die munisipaliteit het ook nie die begroting om erwe in volslae parke te omskep nie.

“Dit wil voorkom asof die plan deurgevoer gaan word om hierdie erwe en veral die parke wat so noukeurig onderhou is, te verkoop en te sloop indien inwoners nie intree en hul stemme laat hoor nie. In Oudtshoorn se strawwe somerhitte is die koelte en ekologiese waarde van bestaande parke van onskatbare waarde. Die gemeenskap moet daarom hierdie parke vir toekomstige geslagte bevaar,” voeg Erasmus by.

Stuur vandag nog ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 om meer inligting oor die openbare deelnameproses te bekom.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf