|

Inwoners raadop met Theewaterskloof-munisipaliteit; AfriForum dien strafregtelike klagte in

AfriForum se Theewaterskloof-tak het onlangs ’n vreedsame optog saam met inwoners van Botrivier teen die Theewaterskloof Plaaslike Munisipaliteit gehou. Die besorgde inwoners het onderweg na die Caledon-polisiestasie hul misnoeë oor die munisipaliteit se hantering van ’n rioolwerke en oorlaaistasie in die gebied te kenne gegee. Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het by dié polisiestasie strafregtelike klagtes teen sowat 30 individue, onder wie die munisipale bestuurder, ingedien.

Die gemeenskap van Botrivier is vir die laaste 16 jaar voortdurend in gesprek met die munisipaliteit oor onder meer die onwettige bedryf van ’n rioolsuiweringsaanleg asook ’n oorlaaistasie wat 25 m van ’n gevestigde woonbuurt bedryf word. Die Theewaterskloof-munisipaliteit het sowat 25 jaar gelede beheer geneem van ’n bestaande rioolsuiweringsaanleg wat opgegradeer sou word. Die rioolsuiweringsaanleg is intussen vergroot sonder die nodige sonering of omgewingsimpakstudies.

Die onwettige uitbreiding het daartoe gelei dat ’n naburige wynplaas se grond onherroeplik besoedel is én dat ’n toevlugsoord vir mishandelde vroue en kinders gesluit het weens oormatige lugbesoedeling. Daar was in die laaste 16 jaar verskeie vergaderings met die munisipaliteit gehou om die probleem die hoof te bied, maar steeds word verdere uitbreidings voortgesit.

Daar is boonop ’n oorlaaistasie vir vullis langs die rioolsuiweringsaanleg opgerig, waar daar daagliks gevaarlike vullis en afval gestort word. Dit ondanks die feit dat waarskuwingstekens aandui dat dit onwettig is om vullis daar te stort. ’n Verteenwoordiger van die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelings Beplanning, Muneeb Baderoon, het in Maart vanjaar die oorlaaistasie besoek, waarna die hoof van dié departement, Eugene Pienaar, per e-pos bevestig het dat die oorlaaistasie onwettig bedryf word. Daar is selfs daarop gewys dat die strukturele integriteit van die oprit in gedrang is. Desnieteenstaande is hierdie stortingsterrein steeds in gebruik.

“Die inwoners van Botrivier sal nie geïgnoreer word of verder toekyk hoe dié dorp deur die roekelose wanbestuur van die Theewaterskloof-munisipaliteit verwoes word nie,” sê John Carlile, ondervoorsitter van AfriForum se Theewaterskloof-tak.

AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om die skuldige partye tot verantwoording te roep.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf