Kaap Agulhas-tak verf straatname op 72 randstene in Napier
AfriForum se Kaap Agulhas-tak het oor die afgelope vier weke randstene in Napier opgeknap en straatname op altesaam 72 van hierdie randstene oorgeverf. Die tak het boonop nege bome in die gebied geplant as deel van die burgerregteorganisasie se #OnsDorp-inisiatief, waar takke projekte aanpak om hul dorpe en omgewing te verfraai en te verbeter.
Die opknapping en oorverf van hierdie randstene en straatname is die derde keer wat AfriForum dit in die Kaap Agulhas-gebied doen. Die tak het vroeër die straatname op 113 randstene in Bredasdorp en Struisbaai oorgeverf. Hierdie opknappingswerk vorm deel van die samewerkingsooreenkoms wat AfriForum vroeër vanjaar met die Kaap Agulhas Plaaslike Munisipaliteit gesluit het. Die ooreenkoms stel AfriForum in staat om projekte soos hierdie met die volle ondersteuning van die munisipaliteit aan te pak en ’n wesenlike bydrae tot die onderhoud en verfraaiing van die omgewing te maak.
AfriForum het ook nege bome by die ingang van Napier geplant, wat die dorp se groen ruimtes verder sal ophelder. Die bome sluit twee assegaaibome, drie gwarriebome en vier witkareebome in, wat spesifiek gekies is vir hul inheemse gehardheid en gepastheid vir die omgewing.
“AfriForum se Kaap Agulhas-tak is trots op dit wat al bereik is en ons beplan om voort te gaan met projekte wat die gemeenskap se lewensgehalte verbeter,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Ons nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak, sodat ons saam ’n groter impak kan maak.”
AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots. Sluit vandag nog by die Kaap Agulhas-tak aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.



