Krisis op Hoofrifweg – AfriForum eis ingryping
Die toestand van Hoofrifweg (Main Reef Road), wat tussen Benoni en Brakpan loop het nou ’n krisispunt bereik waar ondernemings, motoriste en inwoners aan die kortste end trek. AfriForum eis nou dat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit asook die Gautengse Departement van Openbare Vervoer en Padinfrastruktuur hulle verantwoordelikheid moet nakom en dié pad weer in ’n bruikbare toestand kry.
AfriForum versoek in ’n skrywe dat daar veral werk gemaak moet word van die rioolvloei; die koördinering van herstelwerk aan die rioolnetwerk en stormwaterafvoerpype; herstel van slaggate; en die verwydering van onwettige elektristeitskabels wat gevare vir die gemeenskap inhou.
Die pad is plek-plek byna onbruikbaar weens riool wat in die straat vloei en slaggate veroorsaak. Talle padverbruikers moet noodgedwonge ’n gevaarlik ompad verby Plastic City ry om dié stuk pad te vermy. Dit laat talle ondernemings soos Rock Raceway, Caltex Anzac en ander met hul hande in hul hare omdat potensiële kliënte nie by hulle kan uitkom nie.
Benewens die negatiewe ekonomiese impak wat tans weens hierdie pad ervaar word, hou dit ook wesenlike gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners in. Die ompad verby Plastic City en die Weltevreden-vullisterrein is ’n bekende hoë-misdaad area waar daar al ook skietvoorvalle was. Dit moet reeds gevaarligte by die Ekurhuleni-metro en betrokke departemente laat afgaan dat padverbruikers selfs bereid is om deur ’n hoë-risiko gebied te ry eerder as om Hoofrifweg aan te durf.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, kom hierdie probleem al van 2020 af en dit blyk of die metro nie eens ’n aks nader aan ’n oplossing is nie. Dít ten spyte van fondse wat begroot is vir die verbetering van hierdie pad.
“Dié pad hou nie net ’n wesenlike risiko vir motoriste in nie, maar ook vir nooddienste en vragmotors wat in die aand moet ry. Dit gaan oor meer as net moontlike skade aan voertuie, mense se lewens word in gevaar gestel en dit is lank reeds tyd dat die metro optree,” sluit Olckers af.
Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting en om by jou naaste tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.



