Krugersdorp sal veel skoner wees as stortingsterrein langer oopbly – AfriForum
AfriForum se Krugersdorp-tak het vandag ’n dringende beroep op die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gedoen om die werksure van sy munisipale stortingsterrein in Krugersdorp te verleng om naweke ook in te sluit. Die verlengde werksure sal toesien dat meer inwoners van die terrein gebruik maak en sodoende hulle deel doen om Krugersdorp skoon te hou.
Talle inwoners van die Mogale City-munisipaliteit het AfriForum genader met klagtes oor die beperkte bedryfsure van Krugersdorp se stortingsterrein, aangesien dit op Vrydagmiddae en Saterdae gesluit is. Hierdie beperking skep ernstige probleme vir inwoners wat buite gewone werksure toegang tot die terrein moet verkry. Die gevolg is dat baie vullis onwettig in ongemerkte gebiede gestort word, wat ’n wesenlike gesondheidsrisiko vir die gemeenskap inhou en tot besoedeling lei.
AfriForum het gevolglik die munisipaliteit versoek om dringend die huidige bedryfsure te herevalueer en te verleng sodat inwoners wettiglik van hul huishoudelike en tuinvullis ontslae kan raak. Só ’n stap sal bydra tot ’n skoner, gesonder en meer volhoubare gemeenskap.
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, is hierdie versoek in die beste belang van beide die munisipaliteit en sy inwoners. AfriForum is bereid om met die betrokke departement saam te werk om ’n volhoubare oplossing te vind en om bewustheidsveldtogte in die gemeenskap te ondersteun.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.



