Meld foutiewe verkeersligte in Ekurhuleni híér by AfriForum aan
AfriForum doen ’n beroep op inwoners aan die Oos-Rand om verkeersligte in dié metro wat nie werk by die organisasie se nuwe opname te voeg. Hierdie opname het ten doel om die erns van verkeersligte wat foutief of buite werking is te bepaal en dit gevolglik aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te rapporteer vir dringende ingryping. Die opname volg nadat AfriForum al op 30 September ’n aantal disfunksionele verkeersligte by die metro aangemeld het maar geen terugvoer ontvang het nie.
Sommige van die kruisings waar verkeersligte foutief is of nie werk nie, vloei na hoofroetes wat lei na die N17, R21, Pretoria en die O.R. Tambo Internasionale Lughawe. Hierdie verkeersligte is hoofsaaklik in Great North-weg in Benoni geleë waar dit met High-weg, Stanley-weg, Weststraat en Deodarstraat kruis. Die probleem is egter nie beperk nie en strek oor die hele Ekurhuleni-metro.
Boonop hou kruisings met disfunksionele verkeersligte ’n veiligheidsrisiko vir padgebruikers in. Buiten ’n toename in motorongelukke, is hierdie kruisings ook brandpunte vir misdaad. Op 23 Oktober was daar ’n ongeluk tussen drie voertuie waar Great North-weg met High-weg kruis weens verkeersligte wat nie werk nie. Hierdie is een van die kruisings wat AfriForum vroeër by die Ekurhuleni-metro aangemeld het en steeds nie herstel is nie.
AfriForum moedig Ekurhuleni-inwoners aan om aan die opname deel te neem. Die organisasie sal die data verwerk en daarvolgens verdere aksie neem om druk op die metro en die Gautengse departement van Paaie en Vervoer toe te pas. Die laaste dag om aan die opname deel te neem is 30 November.
Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor hoe om by AfriForum se plaaslike-tak betrokke te raak.



