|

Misdadigers lê laag tydens landwye AfriForum-patrollie in Hoëveld

AfriForum se buurtwagte in die Hoëveld het op 17 Oktober aan die organisasie se massapatrollie deelgeneem. Tydens die patrollie was daar minstens 130 deelnemers in meer as 70 voertuie van verskillende AfriForum-buurt- en plaaswagte in die streek. ’n Aantal privaat sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums en private buurtwag-strukture het ook aan die patrollie deelgeneem. AfriForum-strukture wat deelgeneem het, is Argent-plaaswag, Chrissiesmeer-buurtwag, Delmas Valke-buurtwag, Ermelo-buurtwag, Middelburg-buurtwag, Piet Retief-buurtwag en Standerton-buurtwag.

Alhoewel daar geen insidente aangemeld is nie, behalwe een geval waar ’n dronkbestuurder probeer het om die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Middelburg te ontglip, was die patrollie juis daarom ’n reuse-sukses.

“Sodra ons lede die paaie patrolleer, dink misdadigers twee keer voordat hulle moeilikheid maak. Dit is opsigself ’n sukses en wys dat ons strukture ’n verskil maak,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Die Chrissiesmeer-patrollie het op 18 Oktober die strate spesifiek deur die dag gepatrolleer om toeriste te wys dat die dorp veilig is. Lede het te voet deur die dorp beweeg en sommer terselfdertyd van die geleentheid gebruik gemaak om die dorp skoon te maak. Die jongspan het ook met die patrollie gehelp.  

“AfriForum se strukture poog om met elke massapatrollie meer samewerking te kry, beter administratiewe vermoë te skep en om daadwerklike verskille in mense se lewens te maak”, sluit Bekker af.

Steun die AfriForum-buurtwag in jou omgewing deur aan te sluit by www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos na hennie.bekker@afriforum.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid