|

Moedertaalonderrig – die lig gaan op maar gaan dit hierdie keer aanbly?

Die minister van Basiese Onderwys, me Siviwe Gwarube het onlangs die Funda Uphumelele Nasionale Peiling geloods. Die afkorting daarvoor is FUNS, maar dit handel nie oor pret nie, maar om ’n omvattende beeld van vroeë leesvaardigheid in die land se elf amptelike gesproke tale te verkry.

Op die oog af is hierdie peiling goeie nuus, want dit fokus op twee van die grootste uitdagings in die land se onderwys wat ten nouste saamhang, naamlik leerders se swak leesvermoë en die gebrek aan moedertaalonderrig.

Beide hierdie kwessies is helaas al male sonder tal plaaslik en internasionaal gepeil en ontleed, gevolg deur aanbevelings en aankondigings oor hoe uitdagings plaaslik te bowe gekom kan word. Daarna het weinig dan verander. Hierdie keer lyk die proses kommerwekkend eners.

In ’n onderhoud na die loodsing van hierdie jongste peiling, het minister Gwarube verklaar dat nou vasgestel is dat ons inheemse tale nie ’n struikelblok is nie, maar ’n bate en dat kinders sal gedy as hulle in hulle moedertaal onderrig kry.

Hierdie feit is al dekades gelede deur vooraanstaande navorsers en internasionale instellings soos Unesco met onweerlegbare bewyse gestaaf. Dit is kennis wat jaarliks wêreldwyd op Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) gevier word. Benewens onderwysinstellings het organisasies van die burgerlike samelewing wat met onderwyssake werk, al soveel keer beklemtoon dat die sleutel tot gehalte onderrig en daardeur tot ekonomiese groei, moedertaalonderrig is.

Die probleem kom van twee kante. Aan die kant van die Departement van Basiese Onderwys is dit die onvermoë om ’n nasionale program te implementeer wat moedertaalonderrig tot matriek vir al meer leerders toeganklik sal maak. Daar word eerder gekonsentreer daarop om die suksesvolle Afrikaanse enkelmediumskole onder druk te plaas om ook te beland in die eenrigtingstraat na verengelsing wat dubbel- of paralelmediumonderrig skep.  

Aan die kant van die ouers is dit die gelate aanvaarding dat hulle kinders sonder moedertaalonderrig moet klaarkom, of die hoop dat Engelse onderrig ’n paspoort na ’n suksesvolle loopbaan gaan wees. Beide standpunte is ewe vernietigend en laat kinders met die akademiese en selfs sielkundige letsels wat onderrig in ’n tweede taal laat.

Een van die eerste knelpunte wat aangespreek moet word om ’n wending van sake te bewerkstellig, is dat die departement se amptenare hulle ideologiese gevegte moet laat vaar en suiwer op die heil van die jeug van die land moet begin fokus. Tweedens moet ouers ag slaan op die redes waarom moedertaalonderrig noodsaaklik is.

Derdens moet meer onderwysers opgelei word om gehalte moedertaalonderrig uitvoerbaar te maak. Die land staar ’n groot onderwyserstekort in die gesig. ’n Studie van die Universiteit van Stellenbosch het vroeër vanjaar aangedui dat die helfte van die land se onderwysers oorweeg om die beroep binne ’n dekade te verlaat – ’n kommerwekkende statistiek as in ag geneem word dat daar reeds nie voldoende onderwysers opgelei word nie en tussen 18 000 en 20 000 onderwysers jaarliks aftree. Die instelling van ’n verpligte Graad R skep nou ook ’n verdere tekort en dan is sowat 7 300 van die Graad R-onderwysers nie na behore gekwalifiseer vir hulle poste nie.

Moeite moet gedoen word om die beroep aantrekliker vir onderwysers te maak, byvoorbeeld deur administratiewe rompslomp te verminder en skole veiliger te maak. In sommige skole skep infrastruktuur lewensgevaarlike omstandighede vir die onderwysers en tog het die vorige finansiële jaar geëindig met provinsiale begrotings vir infrastruktuurprojekte wat nie gespandeer is nie.

Ten slotte, een van die redes waarom onderwysers die beroep verlaat, is hulle onvermoë om in multikulturele klaskamers dissipline te handhaaf en onderrig te gee. Dit het nie met ras te make nie, maar met die feit dat elke mens die veiligste voel in ’n omgewing wat kultureel bekend vir hom is. Daar is onder meer Duitse, Chinese en Franse skole in die land omdat immigrante en tydelike werkers behoefte het aan skole waar hulle kinders steeds in hulle eie taal en kultuur onderrig word. Waarom is dit dan onaanvaarbaar as ons vir Afrikaanse, Tswana of Zuluskole vra?

Hierdie feite gaan veel meer eerlike gesprekke vra as om nog ’n peiling te loods of navorsing te onderneem. Die lig dat moedertaalonderrig noodsaaklik is, het lankal opgegaan, maar die vraag is of dit hierdie keer gaan aanhou skyn om die pad na sukses duidelik te maak.

  • Bailey is die hoof van Kultuursake by AfriForum.

    Soortgelyke plasings

    Ons is Afrikaners