|

Nersa-saak: Munisipaliteite stem toe tot AfriForum-konsepbevel

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

AfriForum se saak teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse is gister (28 Oktober) in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor. Die drie munisipaliteite wat dié saak opponeer het, het uiteindelik AfriForum se konsepbevel vir die aangepaste tydlyne aanvaar. Nersa daarenteen het egter voet by stuk gehou dat die tydlyne in die munisipale kragverhogingsproses nie aangepas moet word nie.  Uitspraak is voorbehou, maar sal na verwagting teen die einde van die week gelewer word.

Die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit en Mogale City Plaaslike Munisipaliteit, wat hul opponerende stukke ter elfder ure liasseer het, het beide tydens die verrigtinge van deuntjie verander. Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit het AfriForum se aansoek gedeeltelik geopponeer, maar is dit eens met die organisasie dat Nersa se huidige prosesse ernstige probleme vir dié metro se begrotingsproses inhou. Stad Kaapstad het hom ook uiteindelik berus by die konsepbevel en die nuwe tydlyne wat daarin uiteengesit word aangesien hulle ook self hierdie aanbeveling gemaak het.  

In sy aansoek versoek AfriForum dat Nersa se openbare deelnameproses, wat vir die huidige finansiële jaar se nuwe munisipale kragtariewe gevolg is, ongeldig verklaar word weens die tekort aan geleenthede vir die publiek om insae te lewer en ander gebreke in die proses. Die organisasie versoek voorts dat die hof ’n interdik uitreik om gespesifiseerde tydlyne vir toekomstige openbare deelnameprosesse te verseker.

Indien AfriForum se aansoek teen Nersa suksesvol is, sal die energiereguleerder reeds teen 31 Januarie 2026 Eskom se nuutste tariewe waarteen munisipaliteit krag moet koop, aankondig. AfriForum versoek ook dat die finale besluit rakende tariefaansoeke teen Maart 2026 by Nersa ingedien moet wees om genoegsame tyd vir behoorlike openbare deelname te gee. Nersa se finale besluit oor elke munisipaliteit se nuwe tariewe moet teen 5 Mei afgehandel wees. Die organisasie versoek voorts dat alle aansoeke gepubliseer moet word met ’n kostestudie en indien ’n munisipaliteit nie ’n kostestudie indien saam met hulle aansoek nie moet dít ook aan die publiek genoem word.

Nersa het geargumenteer dat hoewel daar gebreke was in hul publieke deelnameproses dit nie van só aard was dat die hele proses ongeldig verklaar hoef te word nie. Hul regspan het verder aangevoer dat slegs 48% van munisipaliteite teen hul eerste aanvanklike afsnydatum hul aansoek ingedien het en daarom moes hulle die tydlyne verleng.

“AfriForum se regspan het aangevoer dat Nersa nou skoothond eerder as waghond is waar dit munisipaliteite betref. In plaas daarvan om die energiesektor te reguleer en voldoening aan wetgewing te verseker sterk Nersa munisipaliteite nou in hul kwaad. Verder blyk dit dat Nersamunisipaliteite bo die verbruiker stel aangesien daar geleenthede gegee word vir munisipaliteite om hul aansoeke vir kragtariefverhogings later as die voorgestelde afsnydatum in te dien, maar die publiek word nie meer tyd gegun om kommentaar in te dien nie,” meen Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer oor Plaaslikeregeringsake.  

“Mogale City-munisipaliteit is self ’n voorbeeld van hoe Nersa munisipaliteite se gerief bo verbruikers se behoefte stel. Dié munisipaliteit se aansoek om tariefverhogings is op 19 Junie ingedien en teen 20 Junie goedgekeur. Daar was nie genoegsaam tyd vir die publiek om die aansoek te bestudeer en kommentaar daarop in te dien nie,” voeg Steffens by.

Nersa het geargumenteer dat kostestudies nie saam met aansoeke gepubliseer hoef te word nie aangesien dit konfidensieel is en dat die tegniese aard daarvan verseker dat slegs hulle kennis voldoende is om dit te interpreteer. Hierop wou regter Etienne Labuschagne weet hoe daar dan van die publiek verwag kan word om waardevolle bydraes te lewer tot die proses as hulle nie oor die nodige inligting beskik nie. Nersa kon nie hierop ’n duidelike antwoord lewer nie.  

AfriForum se regspan het aangevoer dat ’n formele PAIA-proses vir die publiek om die kostestudies te bekom ’n administratiewe gemors tot gevolg sal hê aangesien dit tot 90 dae kan neem om inligting te kry en daar dus nie genoeg tyd sal wees om kommentaar in te dien nie.

“As reguleerder behoort Nersa toe te sien dat munisipaliteite binne die raamwerk van die betrokke wetgewing optree en deurlopend ook die belange van verbruikers in ag neem. Hulle toets duidelik die grense van die wet – as hulle egter die grens oorsteek, sal AfriForum toesien dat daar teen die reguleerder opgetree word,” sluit Steffens af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik