|

Nuuskommentaar: Lojale of ontroue verset?

Dit is baie belangrik vir ’n volk om kritiek op homself toe te pas – beide in nadenke oor die hede en die verlede. Indien mens nie kritiek op ’n mens se eie verlede en hede lewer nie, dan laat mens daardie kritiek in die hande van opponente wat geen edele bedoelinge het nie. Sonder die nodige selfkritiek word jou volk en veral die jongmense swak toegerus in die stryd om idees en die waarheid wat deesdae so fel woed – veral op sosiale media. Hoe kan mens ’n vraag antwoord of in verdediging van wie en wat jy is optree as jy nie die nodige kennis en argumente, wat uit liefde gebore is, het nie?

Dít is die kruks van die saak: gesonde kritiek word uit liefde gebore; uit ’n strewe na deugdelikheid, deurlopende verbetering en gehoorsaamheid aan God. Dit word gelewer in nederigheid. Ouers wat omgee vir hul kinders wys hulle tereg en straf hulle, al is dit sleg en al veroorsaak dit oor die korttermyn hartseer. Die doel met die teregwysing en straf is vorming, met die oog op ’n gelukgevulde en vervullende lewe, ’n lewe wat die Lig in die wêreld laat skyn wat so nodig is.

Dieselfde is waar vir ’n volk. Wanneer jy omgee, wanneer jy graag die volk wil sien gedy en voortbestaan in geregtigheid (soos deur Van Wyk Louw beskryf) dan lewer jy kritiek wanneer jy reken dit is nodig – selfs al is dit onpopulêr. Die doel van die kritiek is dan juis die versekering van voortbestaan, groei en die ewige poging tot die bereiking van wasdom. Dít is lojale verset.

Daarom hoort daar ook diep nagedink te word oor hoe en waar die kritiek gelewer behoort te word – want indien dit op onoordeelkundige wyse gelewer word, kan dit afbreek en nie bou nie. In plaas van om die volk se saak te bevorder, kan opponente bevoordeel word.

Uitkomste, dit wat werklik realiseer, bepaal die toekoms – en nie bedoelinge nie. Wanneer onoordeelkundige optrede bydrae tot die versterking van die beeld van ’n ooglopend falende regering en druk op hulle verlig, dan was die bydrae nie positief nie – dit maak nie saak wat jou (moontlik naïewe) bedoeling was nie.

Maar per slot van sake is dit altyd dade wat harder spreek as woorde. En daarmee word nie gesê dat die uiting van woorde en die voer van debat nie ook self ’n belangrike daad is nie. Die kernvraag is: wat doen (of sê) jy wat ’n impak op voetsoolvlak maak wat bydrae om ’n toekoms vir jou volk, in vreedsame naasbestaan met ander volke, hier aan die suidpunt van Afrika te verseker? Fokus jy op dinge wat binne jou vermoë is om te doen en te verander, of fokus jy op sake en regerings waaraan jy nie werklik iets kan doen nie? Probeer jy ’n verskil maak in gewone mense se lewens, of probeer jy een of ander ideologiese doelwit bereik, maak nie saak wat die voetsoolvlakgevolge daarvan is nie?

Ons wat glo in die voortbestaan van die Afrikanervolk hier aan die suidpunt van Afrika moet ons nie van stryk laat bring deur dié wat bloot iets te sê het oor wat ons en selfs magte vêr oor die water doen nie. Ons moet bly fokus op dit wat gedoen moet word wat bydrae tot die versekering van ’n toekoms vir ons kinders hier waar ons hoort, in Afrika.

  • Uys is die hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners