Nuuskommentaar: Onderwys – van silwer randjies tot donderstorms
Deur Ilze Nieuwoudt, hoof van Media by AfriForum
Die voormalige minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het in 2023 aangevoer dat ’n verouderende onderwyserskorps tesame met ’n skerp bevolkingsgroei kritieke uitdagings bied vir onderwys in die land. Met die 405 000 onderwysers wat in daardie stadium in die openbare sektor in diens was, was die verhouding onderwysers teenoor leerders net-net kort van 30 leerders per onderwyser. ’n Verdere 23 000 onderwysers sou teen 2030 benodig word om hierdie verhouding te handhaaf. Indien die teiken van 428 000 onderwysers dus nie teen 2030 gehaal kan word nie, sal selfs meer kinders in klaskamers ingeprop word, het die minister gewaarsku.
Daar was teen 2023 egter volgens die toenmalige minister ’n silwer randjie rondom die onweerswolke wat oor onderwys opgesteek het. Die opleiding van 31 000 nuwe onderwysers per jaar en die feit dat net sowat 20 000 hiervan in die openbare sektor geplaas word, was luidens Motshekga belowende nuus, want die poel van opgeleide onderwysers waaruit geput sou kon word, het stewig bly groei.
Maar dit was twee jaar gelede en teen 2025 blyk dit asof sprake van silwer randjies lank vergete is, want ’n regte Hoëveldse donderstorm is besig om los te bars oor onderwys in die land.
Die probleme in basiese onderwys was sekerlik al jare aan die kom, maar teen die einde van verlede jaar het Kapenaars met kleingoed in die skoolbanke behoorlik gestik aan hul oggendkoffie toe die aankondiging kom dat nagenoeg 2 400 onderwysposte in die Wes-Kaap gesnoei moes word weens begrotingstekorte. In Januarie vanjaar het GroundUp berig dat een Kaapstadse laerskool die klasse vir sy graad 3-groep moes saamvoeg. Hiermee is ’n totaal van 54 besige negejariges saamgebondel in een klas met één onderwyser – iets wat gehalte onderrig gans onmoontlik maak.
In Oktober vanjaar het die storm na die noorde getrek toe die Gautengse Onderwysdepartement aangekondig het dat die snoeiskêr ook ingelê gaan word vir onderwysposte in dié provinsie. Intussen blyk dit dat veral laerskole – waar die fondasie vir ’n kind se hele skoolloopbaan gelê moet word – geteiken word deur die besluit. In Gauteng is ’n krimpende begroting ook as die rede vir besnoeiings voorgehou.
Teen 30 Oktober het die departement skielik ’n wafferse U-draai gemaak en nes ’n spul erg benoude katte ewe benoude spronge gemaak. In ’n verklaring beweer die departement nou volgens Maroela Media “dat géén departementele onderwysposte in openbare skole in die volgende twee jaar gesny gaan word nie”.
Dit terwyl sommige skole in die provinsie onlangs in kennis gestel is dat hulle tot soveel as agt poste gaan moet opsê. Die LUR vir Onderwys in die provinsie, Matome Chiloane, het selfs verklaar dat “klaskamerstabiliteit” en “gelyke toegang tot gehalte onderwys in alle kwintiele in die provinsie” prioriteit geniet.
Dit lyk egter asof die departement baie ligtelik omgaan met die waarheid, want verskeie skole in die Tshwane-Suid-onderwysdistrik moes hierdie week die skoknuus ontvang dat onderwysers wat in sogenaamde “oortollige poste” is, verskuif kan word na skole waar poste beskikbaar is.

En terwyl poste oortollig verklaar word, het die verpligte instelling van gr. R ’n groot tekort aan geskikte onderwysers vir dié graad blootgelê en is onlangs bevind dat nagenoeg 27% van huidige gr. R-onderwysers nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie. Dié tekortkoming sal volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, die “wonder van ’n ekstra verpligte skooljaar” as’t ware betekenisloos maak vir kinders wat aan ongekwalifiseerde onderwysers uitgelewer word.
Die uitdrukking “die ongeluk kom nooit alleen nie” is ongelukkig in die kol wanneer dit kom by Suid-Afrika se onderwyssektor in 2025, want te midde van al dié uitdagings staan skole se infrastruktuur weens die toename in leerdergetalle op wankelrige bene. Daarbenewens het ’n studie wat onderneem is by Universiteit Stellenbosch (US) in April vanjaar onthul dat 50% van die land se onderwysers die professie wil verlaat, onder meer weens uitbranding.
Intussen het ’n bom rondom die plasings van aanstaande jaar se gr. 8-leerders ook vandeesweek in Pretoria, Centurion en die Oos-Rand gebars. AfriForum eis nou antwoorde van Chiloane hieroor, want hoewel plasings vanaf 16 Oktober aangekondig is, is dit steeds nie afgehandel nie. Talle ouers wag nog benoud op nuus oor waar hul graad 8’s volgende jaar gaan skoolgaan.
In Gauteng en die Wes-Kaap – die ekonomiese sentra van die land waar nagenoeg 40% van die land se bevolking woon – wys die krake in die één stelsel wat nodig is om op alle terreine vooruitgang vir die land te bring, al hoe meer.
Motshekga se silwer randjie is nou lank vergete, want geld, of moontlik die wanbesteding daarvan, kraai uiteindelik veel harder koning as ’n sogenaamde surplus onderwysers wat, soos dinge nou staan, nooit die binnekant van ’n klaskamer sal sien nie.



