Nuuskommentaar: Ons kán die toekoms van ons verlede beskerm
Alana Bailey
Dit is ironies dat die aanbreek van September jaarliks met spanning deur historici en bewaringskundiges begroet word. Dit is immers sogenaamd Erfenismaand, maar plaaslik beteken dit dat ideologies-gedrewe politici die geleentheid gaan aangryp om weer ’n aanslag op die openbare reste van Afrikanergeskiedenis te loods. In Oktober moet die gevolge van hierdie aanvalle dan hanteer word, soos wat nou weer die geval is.
In die verlede was dit al dikwels die dag waarop die naamsverandering van stede en dorpe aangekondig is, of die verskuiwing van monumente geëis is.
Vanjaar was geen uitsondering nie, met die mees opspraakwekkende insident die mosie van die EFF dat die Krugerwildtuin se naam moet verander. Dit is op 23 September by die Mpumalanga-wetgewer ingedien en deur ’n meerderheid lede aanvaar. Dat hulle nie die jurisdiksie het om die naamsverandering te bekragtig nie, is wel so, maar die stap moet nogtans sterk teengestaan word om te voorkom dat dit verder gevoer word.
Naamsveranderings, verskuiwings van monumente uit die openbare oog en die herinkleding van museums is deel van ’n gevaarlike herskepping van die verlede. Winston Churchill het gesê dat dit die oorwinnaars is wat die geskiedenis skryf, maar dit hoef nie die laaste woord daaroor te wees nie. Elders in die wêreld is hierdie soort prosesse al gebruik om mense se aansprake op eiendomsreg en historiese prestasies te probeer uitvee, maar dit kan slegs slaag wanneer diegene wat aan die ontvangkant hiervan staan, dit aanvaar.
In die geval van die Krugerwildtuin, mobiliseer AfriForum byvoorbeeld nou reeds met petisies en onderhoude met diegene wat deur ’n naamsverandering geraak sal word, sodat die inligting gereed is indien ’n openbare raadplegingproses volg.
Deelname aan hierdie prosesse lyk soms na ’n vergeefse poging, maar sukses in die verlede het al bewys as die teenkanting sterk genoeg is, dit slaag. ’n Voorbeeld is die naam van Pretoria wat ondanks dekades se teenkanting deur die ANC, behoue gebly het as gevolg van die oorweldigende teenkanting teen verandering.
Nog ’n voorbeeld is gebeure om die Talana Museum. Die bedreiging van erfenisbakens is nie noodwendig net polities nie. Ekonomiese oorwegings speel ook toenemend ’n rol. Dit het onlangs rugbaar geraak dat prospektering in die omgewing van hierdie museum onderneem gaan word. Die vriende van die museum en ander belanghebbendes het beswaar aangeteken en gewys op die historiese sensitiwiteit van die terrein, waar die Slag van Talana op 20 Oktober 1899 plaasgevind het. Die beplande prospektering is toe gekanselleer.
Tans geld soortgelyke bedreigings vir onder meer die terrein van die Slag van Donkerhoek en die Krugerwildtuin.
Die publiek kan ook hier ’n daadwerklike verskil maak deur aan georganiseerde beswaarmaking daarteen deel te neem en bedag te wees op kennisgewings wat planne van dié aard bekend maak.
Die belangrikste van alles is egter wat in ons huise gebeur. Dáár moet ons onsself en ons kinders inlig oor ons geskiedenis sodat aanslae daarteen en verdraaiings daarvan met kennis teengestaan kan word en ons opnuut ’n waardering daarvoor kan ontwikkel. Die koestering van ons verlede en herdenking daarvan deur middel van pleknaamgewing of die oprig van monumente en museums is nie ’n verheerliking van mense nie, maar juis getuienis oor hoe God in die verlede altyd daar was vir diegene wat in Hom glo en steeds in die toekoms sal wees.



