|

Nuuskommentaar: Onteieningswet ongrondwetlik, maar Ramaphosa gooi steeds wal

Die ANC-regering het al op verskeie wyses probeer om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Pres. Cyril Ramaphosa het uiteindelik die Onteieningswet op 20 Desember 2024 in die geheim onderteken, maar hy het nou openlik erken dat sekere artikels in hierdie wet ongrondwetlik is. Eerder as om die wet terug te trek het Ramaphosa die hof gevra om die ongrondwetlike artikels “reg te stel”.

Ramaphosa se erkenning is vervat in sy beantwoordende verklarings in die hofsaak waardeur AfriForum en ander partye in die Hooggeregshof in Kaapstad poog om die Onteieningswet ongrondwetlik te laat verklaar. Volgens dié verklaring erken die president nou self dat artikels 19(2), (3) en (4) ongrondwetlik is. Hierdie artikels bepaal dat onteiening kan plaasvind voor die grondeienaar die saak in die hof kan betwis.

’n Mens sou kon aanvoer dat daar nooit enige kwessie van ongrondwetlikheid in die wet moes gewees het nie, maar die ANC het ondanks die goeie raad van belanghebbendes besluit om die wet deur die parlement te stoomroller. Hoe dit ook al sy, daar is tog presidensiële raadgewers wat Ramaphosa oor die wet sou moes adviseer en hom van die moontlike probleme kon verwittig. Dit het óf nie gebeur nie óf die president het bewustelik ’n ongrondwetlike wet onderteken.

Ramaphosa kan moontlik aanvoer dat hy ten tyde van ondertekening nie geweet het die betrokke artikels is ongrondwetlik nie, maar dit sal getuig van ’n leier wat regeer sonder om self verantwoordelikheid te neem vir besluite waarop hy die finale sê het. Selfs al het hy eers later van die probleem bewus geraak, hoekom het hy eers gewag dat die hof hom dwing om dit te erken voordat hy die ongrondwetlikheid daarvan openbaar maak?

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen Ramaphosa het leuens verkondig. “Ramaphosa se erkennings bevestig dat hy en die ANC blatante leuens verkondig het deur AfriForum se kommer oor die ongrondwetlikheid van die Onteieningswet af te maak as die ‘verspreiding van disinformasie’. Ramaphosa en almal wat AfriForum valslik beskuldig het, se leuens is nou inderwaarheid deur Ramaphosa self blootgelê,” verduidelik hy.

Ramaphosa se optrede en weiering om teen populistiese faksies binne die ANC standpunt in te neem, doen reeds groot skade aan die land se ekonomie. Pres. Donald Trump van die VSA het binne tien dae ná dit bekend geword het dat Ramaphosa die Onteieningswet onderteken het, strafmaatreëls teen Suid-Afrika aangekondig. Moontlik dink Ramaphosa die land kan sonder Amerika en ander Westerse lande se hulp klaarkom, maar hy sal nie ver hoef te soek om te sien dat onteiening sonder vergoeding katastrofiese gevolge vir ’n land se ekonomie inhou nie. Dink maar net wat met Zimbabwe gebeur het ná boere daar van hul plase af verjaag is.

Die Suid-Afrikaanse president en sy party klou aan mag ten koste van die land wat hulle veronderstel is om te dien. Dit is tyd dat die ANC hul uitgediende ideologieë laat vaar en in die belang van inwoners regeer of iemand anders ’n kans gee wat beter daartoe in staat is.

Koekemoer is ’n senior joernalis by AfriForum.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik