|

Ondersteun verkragtingslagoffers só

Deur Carina Bester

Dit is my skuld. Dit voel asof ek toegelaat het dat dit gebeur. Niemand gaan my glo nie.

Dít is in sommige gevalle die reaksie waarmee slagoffers van verkragting ná hierdie grumisdaad worstel.

Luidens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadsyfers is 10 688 mense in die vierde kwartaal van 2024/2025 (Januarie 2025 tot Maart 2025) in die land verkrag. Dit kom neer op 118 verkragtings per dag. Hoewel daar vergeleke met dieselfde tydperk ’n jaar vantevore 36 minder verkragtings aangemeld is, is ’n totaal van 640 meer verkragtings egter vir die 2024/2025-boekjaar aangemeld. Meer as 106 000 kinderverkragtings het boonop – luidens ’n 2024-mediaverklaring van die DA – in die ses boekjare tot 2024 plaasgevind.

Dié syfers skets ’n donker en kommerwekkende prentjie vir die land se stryd teen geslagsgebaseerde geweld, veral as daar in ag geneem word dat baie verkragtings nooit amptelik aangemeld word nie.

Hoewel daar baie organisasies en instansies is wat berading en dienste aan slagoffers bied, is dit nie altyd vir die slagoffer maklik om oor verkragting te praat nie. Hulle het deurentyd ondersteuning nodig; nie net ná die voorval nie, maar ook in die lang termyn. Slagoffers kan moontlik ná ’n verkragting sukkel om te konsentreer en te slaap, asook nagmerries ervaar. Hulle is dikwels ook emosioneel, bang, kwaad, hulpeloos of depressief.

AfriForum se traumaeenheid het in die lig van die omvang en erns van dié misdaad ’n opleidingsmodule saamgestel om slagoffers en diegene wat ondersteuning bied met die nodige vaardighede toe te rus om hierdie traumatiese gebeurtenis te verwerk.

Die eenheid het tans nagenoeg 270 aktiewe vrywilligers landwyd wat slagoffers van geweldsmisdaad op verskeie gebiede ondersteun. Die opleidingsmodule sal in 2026 aan die eenheid se traumavrywilligers aangebied word om te verseker dat hulle toegerus is om die nodige ondersteuning aan ’n slagoffer te bied en indien nodig professionele hulp te ontbied.

“Die AfriForum-traumaeenheid sien hierdie opleiding as ’n waardevolle geleentheid vir groei – nie net in kennis nie, maar ook in selfvertroue. Dit is belangrik om op hoogte te bly van die nuutste in trauma-ondersteuning en ons glo hierdie opleiding gaan die vrywilligers toerus vir die pad vorentoe. Ons wil gehalte-opleiding aan ons traumavrywilligers waarborg aangesien voortgesette opleiding ’n gehalte- en professionele diens aan slagoffers verseker,” sê Izel Kruger, kantoor- en projekkoördineerder by die AfriForum-traumaeenheid.

Stuur ’n e-pos na die AfriForum-traumaeenheid by trauma@afriforum.co.za indien jy hulp nodig het ná ’n traumatiese ervaring.

  • Glo wat hulle sê.
  • Moenie hulle blameer nie – die verkragter is die enigste persoon wat skuldig is.
  • Luister en bied emosionele ondersteuning.Wees geduldig – genesing vat tyd.
  • Laat die persoon toe om self besluite te neem sodat hulle weer beheer oor hul lewe kan neem.
  • Aanvaar dat die persoon dalk nie dadelik daaroor wil praat nie – emosionele reaksies kan eers later opduik.
  • Respekteer hul behoeftes rakende fisieke kontak.
  • Moenie sonder die persoon se toestemming met ander oor die verkragting praat nie.

Soortgelyke plasings

Veiligheid